A A A A A

God: [Seën]


Lukas 6:38
“Deel julle besittings met ander, dan sal God vir julle sorg. Julle sal nooit te min hê om van te leef nie. Julle sal van kop tot tone oorlaai word met goeie dinge. Ja, julle ganse lewe sal oorloop van goedheid. Al die goeie dinge wat julle met ander deel, sal op verrassende maniere na julle toe terugkom.

Matt 5:4
“Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog.

Filippense 4:19
Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort.

Psalms 67:7
Op die landerye staan daar goeie oeste. God is ons God. Hy gee vir ons voorspoed.

Getalle 6:24-25
[24] Die Here sal julle seën en julle oppas.[25] Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.

Filippense 4:6-7
[6] Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.[7] Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.

Jakobus 1:17
Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af.

Jeremia 17:7-8
[7] Maar dit sal goed gaan met mense wat My vir alles vertrou. Dit gee hulle moed vir die toekoms.[8] Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels gaan ver af tot by die water. Sulke bome kry nie swaar as dit baie warm word nie. Hulle blare bly groen. Lang maande waarin dit baie droog is, is ook nie regtig ’n probleem nie. Hulle hou steeds aan vrugte dra.

Jesaja 41:10
Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm.

Johannes 1:16
Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.

Genese 22:16-17
[16] “Vandag was jy bereid om hierdie lieflingskind van jou te offer; daarom beloof Ek jou[17] dat Ek jou sal seën. Jou kinders sal so baie wees soos die sterre in die hemel en die sand van die see. Jou kinders sal ook nog eendag hulle vyande se sterk stede oorneem.

Genese 27:28-29
[28] Mag die Here elke dag vir jou dou uit die hemel gee. Mag Hy jou van die aarde se goeie laat geniet: oorvloed van graan en wyn.[29] Laat die volke jou dien en nasies eer aan jou betoon. Jy moet oor jou broers heers, jou ma se ander seuns sal voor jou buig. Wie jou vloek, sal net ellende ervaar, en wie jou seën, sal gelukkig wees.”

Psalms 1:1-3
[1] God hou sommer baie van jou, want jy leen nooit jou ore aan slegte mense uit nie. Jy hardloop nie agter elke nuwe sonde op die mark aan nie. Jy is ook nie bevriend met daardie spul wat met God spot nie.[2] God is baie bly omdat jy sy Woord geniet. Jy lees dit dag en nag sonder om moeg te word.[3] Daarom is jy soos ’n groot boom wat stewig langs die water staan. Hierdie boom dra op die regte tyd baie vrugte en sy blare bly groen. Sy grootheid skyn helder in alles wat jy doen. Daarom gaan dit baie goed met jou.

Psalms 23:1-4
[1] Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie.[2] Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede. Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie. Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien.[3] Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe. Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe. Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is.[4] Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel.

2 Samuel 22:3-4
[3] My God, by U is ’n mens altyd veilig. U keer my vyande; U maak my sterk sodat ek hulle kan wen. U is ’n veilige wegkruipplek; U help my teen al die geweld.[4] Die Here moet geprys word, want as ek sy hulp vra, help Hy my teen my vyande.

1 Johannes 5:18
Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie.

Psalms 138:7
Wanneer ek in die moeilikheid is, help U my. Mense kry my nie onder nie. U keer dat mense wat my wil seermaak, dit regkry. U red my uit hulle kloue.

2 Korintiërs 9:8
God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen en ander mense help. Ja, julle lewe kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke.

Filippense 4:7
Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.

Afrikaans Bible DB 2006
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou