1 |
As jy jou bekeer, Israel, spreek die HERE, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie. |
2 |
Dan sal jy sweer: So waar as die HERE leef! in waarheid, in reg en in geregtigheid; en die nasies sal hulleself in Hom seën en hulle in Hom beroem. |
3 |
Want so sê die HERE aan die manne van Juda en aan Jerusalem: Braak vir julle 'n braakland en saai nie onder die dorings nie. |
4 |
Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos 'n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge. |
5 |
Verkondig in Juda en laat dit hoor in Jerusalem en sê: Blaas die basuin in die land! Roep hardop en sê: Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan! |
6 |
Steek op die banier na Sion toe! Vlug, bly nie staan nie! Want Ek bring 'n onheil uit die Noorde en 'n groot verwoesting. |
7 |
'n Leeu het opgekom uit sy bos en 'n verderwer van nasies het weggetrek, uitgegaan uit sy plek om jou land 'n woesteny te maak; jou stede sal verwoes word, sonder inwoners. |
8 |
Daarom, omgord julle met rouklere, klaag en huil, want die toorngloed van die HERE teen ons het nie bedaar nie. |
9 |
En op die dag, spreek die HERE, sal die moed van die koning en die moed van die vorste vergaan, en die priesters sal verskrik wees en die profete verstom staan. |
10 |
Toe het ek gesê: Ag, Here HERE, waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei met die woorde: Julle sal vrede hê -- terwyl die swaard tot aan die siel raak. |
11 |
In die tyd sal aan hierdie volk en aan Jerusalem gesê word: 'n Gloeiende wind van die kaal heuwels in die woestyn op pad na die dogter van my volk, nie om te wan of te suiwer nie! |
12 |
'n Wind te sterk vir hierdie dinge sal vir My kom; nou sal Ek ook oordele teen hulle uitspreek. |
13 |
Kyk, soos wolke kom hy op, en soos 'n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes! |
14 |
Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef? |
15 |
Want 'n stem verkondig uit Dan en laat onheil hoor van die gebergte van Efraim af. |
16 |
Vermeld dit aan die nasies! Kyk, laat dit hoor teen Jerusalem! Beleëraars kom uit 'n ver land en het hulle stem verhef teen die stede van Juda. |
17 |
Soos veldwagters is hulle teen die stad rondom, omdat dit teen My wederstrewig was, spreek die HERE. |
18 |
Jou wandel en jou handel het jou dit aangedoen; dit is jou boosheid; ja, bitter is dit, ja, dit raak tot aan jou hart. |
19 |
o My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu! |
20 |
Verwoesting op verwoesting word uitgeroep, want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes, my tentdoeke in 'n oomblik. |
21 |
Hoe lank sal ek die banier sien, die basuingeluid hoor? |
22 |
Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie. |
23 |
Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie. |
24 |
Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud. |
25 |
Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg. |
26 |
Ek het gekyk, en die land van tuine was 'n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die HERE, voor sy toorngloed. |
27 |
Want so sê die HERE: Die hele land sal 'n wildernis word, alhoewel Ek daar geen einde aan sal maak nie. |
28 |
Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo rou dra, omdat Ek dit gespreek, My dit voorgeneem het en Ek geen berou het en daarvan nie sal terugkom nie. |
29 |
Vir die geluid van die ruiters en boogskutters vlug die hele stad; hulle het in die bosse ingegaan en op die rotse geklim; die hele stad is verlaat, en niemand woon daarin nie. |
30 |
En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al trek jy skarlaken klere aan, al versier jy jou met goue sieraad, al laat jy jou oë groter lyk met swart verf -- tevergeefs maak jy jou mooi; minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe. |
31 |
Want ek het gehoor 'n stem soos van een wat inmekaar krimp, 'n benoudheid soos van een wat die eerste keer baar, die stem van die dogter van Sion; sy hyg na asem, sy brei haar hande uit en sê: Wee my tog, want my siel is magteloos teenoor die moordenaars. |
Afrikaans Bible 1933/1953 |
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou |
Jeremia 4:1 |
Jeremia 4:2 |
Jeremia 4:3 |
Jeremia 4:4 |
Jeremia 4:5 |
Jeremia 4:6 |
Jeremia 4:7 |
Jeremia 4:8 |
Jeremia 4:9 |
Jeremia 4:10 |
Jeremia 4:11 |
Jeremia 4:12 |
Jeremia 4:13 |
Jeremia 4:14 |
Jeremia 4:15 |
Jeremia 4:16 |
Jeremia 4:17 |
Jeremia 4:18 |
Jeremia 4:19 |
Jeremia 4:20 |
Jeremia 4:21 |
Jeremia 4:22 |
Jeremia 4:23 |
Jeremia 4:24 |
Jeremia 4:25 |
Jeremia 4:26 |
Jeremia 4:27 |
Jeremia 4:28 |
Jeremia 4:29 |
Jeremia 4:30 |
Jeremia 4:31 |
Jeremia 1 / Jer 1 |
Jeremia 2 / Jer 2 |
Jeremia 3 / Jer 3 |
Jeremia 4 / Jer 4 |
Jeremia 5 / Jer 5 |
Jeremia 6 / Jer 6 |
Jeremia 7 / Jer 7 |
Jeremia 8 / Jer 8 |
Jeremia 9 / Jer 9 |
Jeremia 10 / Jer 10 |
Jeremia 11 / Jer 11 |
Jeremia 12 / Jer 12 |
Jeremia 13 / Jer 13 |
Jeremia 14 / Jer 14 |
Jeremia 15 / Jer 15 |
Jeremia 16 / Jer 16 |
Jeremia 17 / Jer 17 |
Jeremia 18 / Jer 18 |
Jeremia 19 / Jer 19 |
Jeremia 20 / Jer 20 |
Jeremia 21 / Jer 21 |
Jeremia 22 / Jer 22 |
Jeremia 23 / Jer 23 |
Jeremia 24 / Jer 24 |
Jeremia 25 / Jer 25 |
Jeremia 26 / Jer 26 |
Jeremia 27 / Jer 27 |
Jeremia 28 / Jer 28 |
Jeremia 29 / Jer 29 |
Jeremia 30 / Jer 30 |
Jeremia 31 / Jer 31 |
Jeremia 32 / Jer 32 |
Jeremia 33 / Jer 33 |
Jeremia 34 / Jer 34 |
Jeremia 35 / Jer 35 |
Jeremia 36 / Jer 36 |
Jeremia 37 / Jer 37 |
Jeremia 38 / Jer 38 |
Jeremia 39 / Jer 39 |
Jeremia 40 / Jer 40 |
Jeremia 41 / Jer 41 |
Jeremia 42 / Jer 42 |
Jeremia 43 / Jer 43 |
Jeremia 44 / Jer 44 |
Jeremia 45 / Jer 45 |
Jeremia 46 / Jer 46 |
Jeremia 47 / Jer 47 |
Jeremia 48 / Jer 48 |
Jeremia 49 / Jer 49 |
Jeremia 50 / Jer 50 |
Jeremia 51 / Jer 51 |
Jeremia 52 / Jer 52 |
|
|
|
|
|