1 |
Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. |
2 |
Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. |
3 |
Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. |
4 |
Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser. |
5 |
Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, |
6 |
vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! |
7 |
Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand -- na jou sal dit nie aankom nie. |
8 |
Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. |
9 |
Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. |
10 |
Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; |
11 |
want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. |
12 |
Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie. |
13 |
Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. |
14 |
Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. |
15 |
Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. |
16 |
Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.
|
Afrikaans Bible 1933/1953 |
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou |