1 |
'n Gebed van Moses, die man van God. Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag. |
2 |
Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. |
3 |
U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders! |
4 |
Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos 'n nagwaak. |
5 |
Weggespoel het U hulle; hulle word 'n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit: |
6 |
in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny 'n mens dit af, en dit verdor. |
7 |
Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik. |
8 |
U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig. |
9 |
Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos 'n gedagte. |
10 |
Die dae van ons jare -- daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen. |
11 |
Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is? |
12 |
Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom! |
13 |
Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte. |
14 |
Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae. |
15 |
Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het. |
16 |
Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders. |
17 |
En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!
|
Afrikaans Bible 1933/1953 |
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou |