A A A A A
1 Samuel 6
1
Die ark van die Here was sewe maande lank in die land van die Filistyne.
2
Toe roep die Filistyne hulle priesters en waarsêers bymekaar en vra vir hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die Here? Sê vir ons hoe ons dit na sy eie plek toe kan terugstuur.”
3
Die priesters en waarsêers het gesê: “Wanneer julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie net so terugstuur nie. Stuur ’n skuldoffer daarmee saam. Wanneer julle gesond word, sal julle weet dat dit Hy was wat julle so swaar getref het.”
Afrikaanse Bybel NLV 2011

1
Die kis van die Here was sewe maande lank in die land van die Filistyne.
2
Toe het die Filistyne hulle priesters en waarsêers geroep en vir hulle gevra: “Wat moet ons doen met die kis van die Here? Sê vir ons wat ons moet saamstuur wanneer ons dit terugstuur na sy plek.”
3
Die priesters en die waarsêers het gesê: “Julle moenie die kis van die God van Israel terugstuur en niks daarmee saamstuur nie. Julle moet vir Hom 'n skuld-offer saam met die kis stuur. Dan sal julle gesond word en dan sal julle weet hoekom Hy julle so swaar laat kry het.”
Afrikaanse Bybel ABA 2007

1
Die ark van die Here was sewe maande in die Filistyne se gebied,
2
toe laat die Filistyne hulle priesters en waarsêers kom en vra vir hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die Here? Sê vir ons waarmee ons hom moet terugstuur na sy plek toe.”
3
Die waarsêers antwoord hulle: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit net nie sonder ’n geskenk terugstuur nie. Julle móét die God van Israel iets gee vir die skade; dan kan julle dalk gesond word en agterkom waarom Hy julle so swaar laat kry.”
Afrikaanse Bybel DB 2006

1
Toe die ark van die Here sewe maande in Filistynse gebied was,
2
het die Filistyne hulle priesters en waarsêers ontbied en gevra: “Wat moet ons met die ark van die Here doen? Sê vir ons hoe ons dit na sy eie plek toe kan terugstuur.”
3
En hulle het geantwoord: “As julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie sommerso terugstuur nie. Julle moet dit teruggee met 'n behoorlike geskenk daarby. Dan sal julle gesond word en weet waarom sy hand so swaar op julle gebly het.”
Afrikaanse Bybel 1983

1
En toe die ark van die HERE sewe maande lank in die land van die Filistyne was,
2
het die Filistyne die priesters en die waarsêers geroep en gesê: Wat moet ons met die ark van die HERE doen? Gee ons te kenne waarmee ons dit na sy plek kan wegstuur.
3
En hulle sê: As julle die ark van die God van Israel wegstuur, stuur dit dan nie leeg weg nie, maar gee Hom ten volle 'n skuldoffer terug; dan sal julle gesond word, en dit sal julle bekend word waarom sy hand nie van julle wyk nie.
Afrikaanse Bybel 1933/1953