A A A A A
Regters 14
1
Simson het afgegaan na Timna toe. Hy het daar ’n Filistynse meisie gesien.
2
Toe hy teruggaan, het hy sy ouers van haar vertel: “Ek het in Timna ’n Filistynse meisie gesien. Gaan kry haar dat ek met haar kan trou.”
3
Sy ouers vra toe vir hom: “Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense Filistyne ’n vrou vat?” Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my. Ek wil haar hê.”
Afrikaanse Bybel NLV 2011

1
Eendag het Simson na die stad Timna gegaan en daar het hy 'n vrou gesien. Sy was 'n Filistynse meisie.
2
Toe hy terugkom, het hy vir sy ouers vertel van haar. Hy het gesê: “Ek het in Timna 'n vrou gesien, 'n Filistynse meisie. Nou wil ek hê julle moet met haar ouers gaan praat, want ek wil met haar trou.”
3
Simson se pa en ma het vir hom gesê: “Is daar nie by jou eie mense en in ons hele volk 'n vrou vir jou nie? Hoekom wil jy 'n vrou gaan haal by die Filistyne? Hulle is nie die Here se mense nie.” Maar Simson het vir sy pa gesê: “Sy is die vrou wat julle vir my moet kry, want ek hou van haar.”
Afrikaanse Bybel ABA 2007

1
Op ’n keer is Simson na ’n dorp met die naam Timna toe. Daar het ’n sekere Filistynse meisie sy oog gevang.
2
Hy is terug huis toe waar hy vir sy pa-hulle gesê het: “Ek het ’n Filistynse meisie in Timna gesien met wie ek wil trou. Tref asseblief die nodige reëlings.”
3
Hulle vra toe vir hom: “Is daar nie onder jou eie mense ’n vrou van wie jy dalk hou nie? Hoekom moet jy nou onder die heidense Filistyne vir jou ’n vrou gaan soek?” Maar Simson het vir sy pa gesê: “Ek hou van haar, ek wil met haar trou.”
Afrikaanse Bybel DB 2006

1
Op 'n keer is Simson na Timna toe en daar het hy 'n vrou gesien. Sy was 'n Filistynse meisie.
2
Hy het teruggegaan en vir sy ouers vertel: “Ek het 'n vrou in Timna gesien, 'n Filistynse meisie. Gaan kry haar vir my as vrou.”
3
Maar sy ouers vra vir hom: “Is daar nie onder jou familie of onder al jou volksgenote 'n vrou nie dat jy na die heidene, die Filistyne, toe moet gaan om te trou?” Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my, want ek hou van haar.”
Afrikaanse Bybel 1983

1
Toe Simson afgegaan het na Timna, sien hy in Timna 'n vrou uit die dogters van die Filistyne;
2
en hy het opgegaan en dit aan sy vader en sy moeder vertel en gesê: Ek het 'n vrou uit die dogters van die Filistyne in Timna gesien; neem haar dan nou as vrou vir my.
3
Maar sy vader en sy moeder sê vir hom: Is daar onder die dogters van jou broers en onder my hele volk nie 'n vrou, dat jy heengaan om 'n vrou uit die Filistyne, die onbesnedenes, te neem nie? En Simson sê aan sy vader: Neem haar vir my, want sy geval my.
Afrikaanse Bybel 1933/1953