A A A A A
Jeremia 12
1
Here, U behandel my altyd regverdig as ek ’n klagte na U toe bring. Maar nou wil ek my saak stel: Hoekom gaan dit goed met slegte mense? En hoekom is oneerlike mense so gelukkig?
2
U het hulle geplant en hulle wortels diep geanker; daarom groei hulle goed en dra hulle vrugte. Hulle praat graag oor U, maar hulle bedoel nie ’n woord daarvan nie.
3
Maar U ken my, Here. U sien my net soos ek is. U toets my ingesteldheid teenoor U. Sleep hierdie mense weg, net soos slagskape! Pas hulle op vir die slagtyd!
Afrikaanse Bybel NLV 2011

1
Here, wanneer ek by U kla oor wat U doen, dan is U altyd reg en U doen altyd wat reg is, maar nou wil ek vra: Hoekom gaan dit goed met mense wat verkeerd doen en wat ontrou is aan U?
2
Hulle is soos bome wat U self geplant het en wat wortels gekry het en grootgeword het en vrugte dra. Hulle noem graag u Naam, maar U is nie in hulle harte nie.
3
Here, U ken my, U weet wat ek doen en hoe ek oor U dink. U moet my vyande straf, U moet hulle doodmaak soos 'n mens slagskape doodmaak.
Afrikaanse Bybel ABA 2007

1
Here, U behandel my altyd regverdig as ek my saak aan U verduidelik. Maar nou het ek ’n paar vrae wat ek wil vra: Hoekom gaan dit so goed met slegte mense? Hoekom leef oneerlike mense asof niks hulle kan pla nie?
2
U het hulle lewe gegee. Hulle is soos bome wat geplant is. Die bome groei baie goed, want hulle wortels is diep in die grond geanker. Op die oog af lyk dit of dit baie goed met hierdie slegte mense gaan. Hulle sê graag mooi dinge oor U, maar hulle bedoel nie ’n woord daarvan nie.
3
Maar U ken my, Here. U sien my net soos ek is en U weet presies wat ek dink. Sleep hierdie mense weg soos ’n mens met skape sou maak wat geslag gaan word. Hou ’n oog oor hulle totdat dit tyd is om hulle te slag.
Afrikaanse Bybel DB 2006

1
Ek sal my saak vir U stel, want U is regverdig, Here. Ek sal punt vir punt my saak voor U lê: Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie?
2
U het hulle geplant; hulle het wortel geskiet, gegroei, ook vrugte gedra. Hulle neem u Naam graag op hulle lippe, maar U is nie in hulle hart nie.
3
U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U. Bring hulle om die lewe soos skape by die slagplek, sonder hulle af vir die slagting wat kom.
Afrikaanse Bybel 1983

1
Regverdig is U, o HERE, as ek met U sou twis. Tog wil ek oor regsake met U spreek: Waarom is die weg van die goddelose voorspoedig? Waarom lewe hulle rustig, almal wat ontrou bedrywe?
2
U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskiet; hulle groei, ook dra hulle vrugte. U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.
3
Maar U, o HERE, ken my; U sien my en toets my hart by U. Ruk hulle weg soos slagskape, en heilig hulle vir die dag van slagting.
Afrikaanse Bybel 1933/1953