A A A A A
Jesaja 53
1
Wie het ons boodskap geglo? Aan wie het die Here sy reddende mag openbaar?
2
My dienaar het gegroei soos ’n loot wat uitspruit in die teenwoordigheid van die Here, soos ’n plant wat groei in droë grond. Hy was nie mooi of koninklik sodat hy ons sou aantrek, of met ’n voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
3
Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie.
Afrikaanse Bybel NLV 2011

1
Hulle het gevra: “Wie het geglo wat ons gehoor het? Vir wie het die Here gewys Hy is sterk?
2
Hierdie man was soos 'n plantjie wat begin groei het, soos 'n wortel wat in droë grond begin groei. Hy was soos 'n plantjie wat ons nie raaksien nie, 'n plantjie wat nie mooi is nie.
3
Al die mense het gedink hierdie man is nie belangrik nie en hulle wou hom nie sien nie. Hy het swaargekry en hy was altyd siek. Die mense het hulle gesig weggedraai, hulle wou nie na hom kyk nie. Die mense het gedink hy is nie belangrik nie, en ons het gedink hy beteken niks.
Afrikaanse Bybel ABA 2007

1
Wie het dit geglo toe hulle dit vir ons vertel het? Wie het raakgesien dat dit die Here is wat dit deur sy krag doen?
2
Sy dienaar het onverwags na vore begin kom. Hy was soos ’n boomwortel wat dit regkry om in droë grond te groei. Daar was niks aan hom wat hom opvallend gemaak het nie. Daar was nie iets aan sy voorkoms wat vir ons mooi was nie.
3
Mense het die rug vir hom gedraai. Hy het swaargekry. Hy het geweet wat lyding is. Mense het hom vermy. Ons het niks van hom gedink nie.
Afrikaanse Bybel DB 2006

1
Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2
Die dienaar was soos 'n loot wat voor die Here uitspruit, soos 'n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
3
Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.
Afrikaanse Bybel 1983

1
Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?
2
Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
3
Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
Afrikaanse Bybel 1933/1953