A A A A A
Spreuke 28
1
Goddeloses vlug weg, al jaag niemand hulle nie. Regverdiges is so dapper soos leeus.
2
As daar opstand is in ’n land wissel die leiers vinnig. As ’n wyse en kundige aan bewind kom, is daar lank vastigheid in die land.
3
’n Man wat self arm is en ander arm mense uitbuit, is soos stortreën wat alles wegspoel sodat daar niks kos oorbly nie.
Afrikaanse Bybel NLV 2011

1
'n Mens wat verkeerd doen, vlug, ook wanneer niemand hom jaag nie. Maar mense wat reg lewe, is so dapper soos 'n leeu.
2
Wanneer die mense in 'n land opstandig word, dan is daar baie mense wat leiers wil wees. Maar wanneer daar 'n verstandige mens is wat weet wat die regte ding is om te doen, dan sal hy lank regeer.
3
'n Arm mens wat ander arm mense verdruk, is soos reën wat al die grond wegspoel, sodat daar niks is om te eet nie.
Afrikaanse Bybel ABA 2007

1
’n Ongelowige se slegte gewete laat hom onrustig voel. Hy is soos iemand wat weghardloop al jaag niemand hom nie. ’n Gelowige ervaar kalmte. Hy is soos ’n leeu in sy veilige skuilplek.
2
’n Land waar korrupsie en misdaad hoogty vier, kry die een slegte leier na die ander. Iemand met kennis van die lewe en praktiese vaardighede kan ’n land van die afgrond red.
3
’n Arm mens wat die armes onderdruk, is soos ’n haelstorm wat alles verwoes. Hongersnood en baie ellendes is dan die armes se voorland.
Afrikaanse Bybel DB 2006

1
Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie; die regverdiges het die moed van 'n leeu.
2
As daar opstand is in 'n land, is daar baie wat na mag gryp; as daar iemand met wysheid en kennis is, bly hy lank aan die bewind.
3
'n Man wat self arm is en arm mense uitbuit, is soos 'n reën wat alles verspoel, sodat daar niks te ete oorbly nie.
Afrikaanse Bybel 1983

1
Die goddelose vlug sonder dat daar 'n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos 'n jong leeu.
2
Deur die oortreding van 'n land word sy vorste baie, maar deur 'n verstandige mens met kennis is die reg duursaam.
3
'n Man wat arm is en die armes verdruk, is soos 'n reën wat wegspoel en geen brood bring nie.
Afrikaanse Bybel 1933/1953