A A A A A
Genese 37
1
Jakob het hom weer in die land Kanaän gaan vestig waar sy pa gewoon het.
2
Nou volg die familiegeskiedenis van Jakob. Toe Josef sewentien jaar oud was, het hy dikwels sy pa se troppe vee opgepas saam met sy halfbroers, die seuns van sy pa se vroue Bilha en Silpa. Josef het by sy pa nuus aangedra oor die verkeerde dinge wat sy broers gedoen het.
3
Jakob het Josef liewer gehad as al sy ander kinders omdat hy gebore is toe Jakob reeds bejaard was. Hy gee toe vir Josef ’n besondere kleed.
Afrikaanse Bybel NLV 2011

1
Jakob het in Kanaän gewoon. Sy pa Isak was voorheen daar 'n vreemdeling.
2
Hier is die verhaal van Jakob se familie. Josef was jonk, hy was 17 jaar oud en hy het skape en bokke opgepas saam met sy broers, die seuns van sy pa se vroue Bilha en Silpa. Josef het vir sy pa stories vertel oor wat sy broers gedoen het.
3
Jakob se ander naam was Israel. Jakob was meer lief vir Josef as vir al sy ander seuns omdat Josef gebore is toe Jakob al oud was. Jakob het vir Josef 'n lang rok met moue gemaak.
Afrikaanse Bybel ABA 2007

1
Jakob het intussen besluit om in Kanaän aan te bly, in dieselfde land waar sy pa al die jare gewoon en rondgetrek het.
2
Toe Josef sewentien was, het hy saam met sy broers, sy pa se seuns by Bilha en Silpa, skape opgepas. Josef het elke dag by sy pa oor sy broers loop en skinder.
3
Jakob was baie liewer vir Josef as vir al sy ander seuns. Josef was die kind wat op sy oudag gebore is en Jakob het hom liefgehad. Hy het toe vir Josef ’n kleed met lang moue en baie kleure laat maak.
Afrikaanse Bybel DB 2006

1
Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het.
2
Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob. Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.
3
Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak.
Afrikaanse Bybel 1983

1
En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän.
2
Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers -- hy was nog jonk -- met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.
3
En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom 'n seun van die ouderdom; en hy het vir hom 'n lang rok met moue gemaak.
Afrikaanse Bybel 1933/1953