A A A A A
Bybel in een jaar
April 20

Regters 5:1-31
1. Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam gesing:
2. “Julle moet die Here prys, want leiers het opgetree in Israel, die volk het hulle aangemeld vir die oorlog.
3. Luister, konings, gee aandag, regeerders! Ek sing tot eer van die Here, ek prys die Here die God van Israel met my lied:
4. Toe U uit Seïr gekom het, Here, toe U uit die veld van Edom opgetrek het, het die aarde gebewe, het die hemel reën gegee: die wolke het strome water gegee.
5. Die berge het weggesmelt voor die Here, voor Hom uit Sinai, voor die Here die God van Israel.
6. “In die dae van Samgar seun van Anat, in die dae van Jael was die hoofpaaie stil, reisigers het ompaaie gebruik.
7. Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat 'n moeder in Israel na vore gekom het.
8. Toe die volk nuwe gode vir hulle gekies het, het daar oorlog gekom, maar nie een uit Israel se duisende soldate het die wapen opgeneem nie.
9. “Ek staan by die leiers van Israel, by dié wat hulle vrywillig aangemeld het. Julle moet die Here prys,
10. julle wat op bruin donkies ry, julle wat op mooi saalkleedjies sit, julle wat op reis is, julle moet dit alles vertel!
11. “Tussen die drinkbakke praat hulle daaroor, besing hulle die oorwinning wat die Here behaal het, sy oorwinning vir die boere van Israel. “Die volk van die Here kom bymekaar by die stadspoorte, hulle sing:
12. ‘Kom, Debora, kom, kom, kom sing 'n lied! Maak klaar, Barak seun van Abinoam, kom maak vir jou krygsgevangenes!’
13. “Dié van my volk wat oorgebly het, het bymekaargekom by die leiers, die volk van die Here het na my toe gekom, al die dapper vegters:
14. party was van Efraim, selfs ver uit Amalek uit, saam met hulle Benjamin, almal uit jou volk, party was van Makir, sy leiers het gekom, en uit Sebulon dié wat die heersersepter dra,
15. die leiers uit Issaskar was by Debora. Issaskar was soos Barak, in die laagte was Issaskar by Barak. “By Ruben se suipplekke is daar baie beraadslaag.
16. Waarom het jy by die saalsakke bly sit, bly luister na die fluitspel by die veetroppe? By Ruben se suipplekke is daar baie beraadslaag.
17. Gilead het oorkant die Jordaan bly sit, en waarom het Dan by die skepe gebly? Aser het by die seestrand bly sit, nie van sy kaai af geroer nie.
18. Sebulon was nie bang vir die dood nie en Naftali het die dood getrotseer op die hoogland.
19. “Konings het gekom, hulle het geveg, die konings van Kanaän het geveg by Taänak, by Megiddo se waters, maar hulle het nie silwer buitgemaak nie.
20. Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg.
21. Die Kisonrivier het die vyand meegesleur, die Kisonrivier, die rivier uit die voortyd. “Hou moed! Wees sterk!
22. “Die perde het met hulle hoewe gekap, die sterkes het in jaaggalop voortgestorm.
23. “Die Engel van die Here het gesê: ‘Julle moet vir Meros vervloek, julle moet sy inwoners sonder genade vervloek, want hulle het nie vir die Here kom veg nie, nie vir Hom teen die dapper vegters kom veg nie.’
24. “Geseënd is Jael vrou van Geber die Keniet, meer geseënd as al die vrouens, die vrouens wat in tente woon.
25. Sisera het water gevra, sy het hom melk gegee, in 'n koningsbeker het sy vir hom dikmelk gegee.
26. In haar hand het sy die tentpen vasgevat, in haar regterhand die werksman se hamer. Sy het vir Sisera daarmee getref, sy kop papgeslaan, sy het die slaap van sy kop verbrysel, dit deurboor.
27. By haar voete het hy neergesak, geval en bly lê, by haar voete het hy neergesak en geval; waar hy neergesak het, het hy geval, morsdood.
28. “Sisera se ma het deur die venster gekyk, sy het by die traliewerk gestaan en gekla: ‘Waarom talm sy strydwa om te kom, waarom bly die gedreun van sy strydwawiele weg?’
29. “Haar slimste hofdame antwoord haar en sy sê die woorde agterna:
30. ‘Hulle het 'n groot buit in die hande gekry, hulle verdeel dit: 'n meisie of twee vir elke soldaat; gekleurde klere as buit vir Sisera; gekleurde weefwerk as buit, gekleurde doeke vir my nek, dit is die buit!’
31. “Mag al u vyande so omkom, Here, maar mag dié wat vir U liefhet, wees soos die son wat in sy volle krag skyn.” Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land.

Regters 6:1-40
1. Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die mag van die Midianiete.
2. Hulle het die Israeliete hard behandel, en daarom het hulle langs die bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly.
3. Wanneer die Israeliete iets gesaai het, het die Midianiete teen hulle opgetrek saam met die Amalekiete en ander mense uit die ooste.
4. Dan slaan die Midianiete kamp op en vernietig die opbrengs van die land selfs tot by Gasa se wêreld. Hulle het nie 'n dier in Israel lewend agtergelaat nie, nie 'n skaap of 'n bees of 'n donkie nie.
5. Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop.
6. Hulle het die Israeliete arm laat word, en toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp.
7. Toe hulle tot die Here roep om hulp teen die Midianiete,
8. het Hy 'n man gestuur om onder die Israeliete as profeet op te tree, en hy het vir hulle gesê: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte laat wegtrek en Ek het julle uit die plek van slawerny bevry.
9. Ek het julle gered uit die mag van Egipte en van almal deur wie julle verdruk is. Ek het hulle laat plek maak vir julle en Ek het hulle land vir julle gegee.
10. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”
11. Daarna het 'n Engel van die Here gaan sit onder die groot boom in Ofra wat behoort het aan Joas die Abiësriet. Sy seun Gideon was besig om koring uit te slaan in 'n parskuip waar hy weggekruip het vir die Midianiete.
12. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”
13. Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.”
14. Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!”
15. Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.”
16. Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.”
17. Gideon het vir Hom gesê: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my 'n wonder dat ek seker kan wees dit is U, Here, wat met my praat!
18. Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou 'n offer voor U kan kom neersit.” Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is.”
19. Gideon het toe 'n bokkie gaan gaar maak, en van sestien kilogram meel het hy brood sonder suurdeeg gebak. Hy het die vleis in 'n mandjie gepak en die sous in 'n pan gegooi en vir die Engel van die Here gebring onder die groot boom. Toe Gideon dit naderbring,
20. sê die Engel van God vir Gideon: “Vat die vleis en die brood sonder suurdeeg en sit dit op hierdie rots en gooi die sous daaroor.” Hy het so gemaak,
21. en toe raak die Engel van die Here met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood. 'n Vuur het uit die rots uit opgevlam en die vleis en die brood verteer. Daarna is Hy van Gideon af weg.
22. Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was, en hy het uitgeroep: “Ag, Here my God, ek het die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!”
23. Toe sê die Here vir Gideon: “Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”
24. Gideon het net daar 'n altaar vir die Here gebou en dit genoem: “Die Here gee rus!” Die altaar staan vandag nog in Ofra van die Abiësriete.
25. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat 'n groot bul, die sewe jaar oud bul van jou pa, sy tweede bul, breek jou pa se altaar vir Baäl af en kap die gewyde paal daar langsaan af.
26. Bou dan 'n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.”
27. Gideon het tien van sy slawe gevat en gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het dit in die nag gedoen: hy was bang vir sy pa se familie en vir die stad se mense om dit oordag te doen.
28. Toe die stad se mense die volgende môre opstaan, was Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap en was die bul 'n brandoffer op die altaar wat gebou is.
29. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?” Hulle het oral navraag gedoen, en daar is gesê: “Dit is Gideon seun van Joas! Hy het dit gedoen!”
30. Toe sê die stad se mense vir Joas: “Bring jou seun uit jou huis uit! Hy moet doodgemaak word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap.”
31. Maar Joas het vir almal wat daar by hom gestaan het, gesê: “Wil julle Baäl se saak behartig? Wil julle hom red? Wie Baäl se saak behartig, moet vanmôre nog doodgemaak word. As hy 'n god is, kan hy sy eie saak behartig. Dis sý altaar wat afgebreek is.”
32. Daardie dag het hulle vir Gideon genoem Jerubbaäl, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy saak teen Gideon behartig, want dis hý wat Baäl se altaar afgebreek het.”
33. In daardie tyd het die hele Midian en Amalek saam met ander mense uit die ooste bymekaargekom en deur die Jordaanrivier getrek. Hulle het in die Jisreëlvlakte kamp opgeslaan.
34. Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem, en hy het die ramshoring geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg.
35. Hy het ook boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur en hulle ook opgeroep om hom te volg, en hulle het almal bymekaargekom.
36. [36-37] Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.”
37. ***
38. En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, 'n hele kom vol water.
39. Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog 'n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.”
40. Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.

Psalms 49:1-9
1. Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.
2. Luister hierna, al julle volke, gee aandag, julle almal wat die wêreld bewoon,
3. elke mens, sonder uitsondering, ryk en arm!
4. My mond gaan suiwer wysheid praat; wat ek gaan sê, sal van insig getuig,
5. want ek hoor 'n woord wat my wysheid gee en terwyl ek op die lier speel, wil ek 'n geheimenis verklaar.
6. Waarom sou ek my in moeilike tye kwel as ek bedreig word deur die onreg van bedrieërs,
7. van mense wat net op hulle besittings vertrou en met hulle groot rykdom spog?
8. Een mens kan tog nie 'n ander loskoop van die dood en aan God 'n losprys vir hom betaal nie?
9. Die prys vir 'n mens se lewe is te hoog. Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees

Spreuke 14:20-21
20. 'n Arm mens word selfs deur sy buurman verstoot; 'n ryk man het baie vriende.
21. Wie sy naaste verag, doen sonde; wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed.

Lukas 15:1-10
1. Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.
2. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”
3. Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:
4. “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry.
5. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.
6. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’
7. Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”
8. “Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9. En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’
10. Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”