A A A A A
Bybel in een jaar
April 12

Josua 13:1-33
1. Josua was al baie oud. Die Here het vir hom gesê: “Jy is al baie oud, en daar is nog 'n baie groot deel van die land wat in besit geneem moet word.
2. “Onder die deel wat oorbly, is daar al die Filistynse gebiede en die hele Gesurgebied.
3. Die gebied van die Sigor af teen Egipte tot by die Ekrongebied in die noorde word as Kanaänitiese gebied beskou. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders, dié van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron, en dit sluit die gebied van die Awwiete in.
4. [4-5] “Verder is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, die Gebalgebied van Meara af wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek aan die Amoritiese grens en die hele Libanon aan die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.
5. ***
6. “Ek sal al die bewoners van die bergwêreld verdryf om vir die Israeliete plek te maak, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs. Intussen moet jy hierdie gebiede as besitting aan Israel toewys soos Ek jou beveel het.
7. Verdeel dus nou die land vir die nege stamme en die halwe Manassestam.”
8. Saam met die ander helfte van die Manassestam het die stamme Ruben en Gad reeds hulle besitting ontvang wat Moses aan hulle toegeken het oorkant die Jordaan, aan die oostekant. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebied aan hulle toegeken:
9. van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad aan die rivier, die hele Medebahoogvlakte tot by Dibon,
10. al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het, tot aan die Ammonitiese grens,
11. Gilead met die gebiede Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka
12. met insluiting van die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï geregeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en verdryf.
13. Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka verdryf nie, en hulle woon nou nog tussen die Israeliete.
14. Net aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het.
15. Aan die families in die stam Ruben het Moses die volgende gebied toegeken:
16. van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad af aan die rivier, die hele hoogvlakte tot by Medeba,
17. en tot by Gesbon met al sy stede op die hoogvlakte: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon,
18. Jahas, Kedemot, Mefaät,
19. Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg in die laagte,
20. Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot,
21. al die stede op die hoogvlakte, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, stamhoofde wat aan Sihon onderhorig was en in die land gewoon het.
22. Die waarsêer Bileam seun van Beor is een van dié wat deur die Israeliete doodgemaak is.
23. Die gebied van die stam Ruben het aan die Jordaan gegrens. Dit was dan die besitting van die families in die stam Ruben, die stede en hulle buiteposte.
24. Aan die families in die stam Gad het Moses die volgende gebied toegeken:
25. Jaser, al die stede in Gilead, die helfte van die Ammonitiese gebied tot by Aroër wat regoor Rabba lê,
26. van Gesbon af tot by Ramat-Mispe en Betonim, van Maganajim af tot aan die grens van Lo-Dabar,
27. en in die laagte Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon, die oorblywende deel van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon, die Jordaanstreek tot aan die Gennesaretmeer, die streek oos van die Jordaan.
28. Dit was dan die besitting van die families van die stam Gad, die stede en hulle buiteposte.
29. Aan die families in die halwe Manassestam het Moses die volgende gebied toegeken:
30. van Maganajim af die hele Basan, die hele koninkryk van koning Og van Basan, al die tentdorpe van Jaïr in Basan, sestig altesaam,
31. die helfte van Gilead, en Astarot en Edreï, die koningstede van Og in Basan. Dit is wat die nakomelinge van Makir seun van Manasse ontvang het, die families in die een helfte van die nakomelinge van Makir.
32. Dit is dan die gebied wat Moses toegeken het in die Moabsvlakte oorkant die Jordaan, regoor Jerigo, aan die oostekant.
33. Aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Hulle ontvang van wat die Here die God van Israel self toekom, soos Hy hulle beloof het.

Josua 14:1-15
1. Hier volg nou 'n oorsig van die gebiede wat die Israeliete in Kanaän ontvang het. Die priester Eleasar en Josua seun van Nun het saam met die stamhoofde die gebiede aan die Israeliete toegeken,
2. dit is aan die nege stamme en die halwe stam. Dit is gedoen deur loting soos die Here deur Moses beveel het.
3. Aan die ander twee stamme en die halwe stam het Moses 'n gebied oorkant die Jordaan toegeken, en aan die Leviete het hy nie 'n gebied toegeken saam met die ander nie.
4. Die nageslag van Josef het twee stamme gevorm, Manasse en Efraim, en die Leviete het nie 'n deel van die land ontvang nie, maar wel dorpe om in te woon en weidingsgebiede vir hulle veetroppe.
5. Die Israeliete het gedoen wat die Here vir Moses beveel het, hulle het die land verdeel.
6. Toe die mense van Juda na Josua toe gekom het in Gilgal, het Kaleb seun van Jefunne, 'n Kenassiet, vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, oor jou en oor my gesê het in Kades-Barnea.
7. Ek was veertig toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. Ek het aan hom verslag gedoen soos ek sake gesien het,
8. maar my medeverkenners wat saam met my gegaan het, het die volk se hart laat verstyf van angs. Ek het die Here my God getrou gevolg,
9. en Moses het my daardie dag met 'n eed belowe: ‘Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.’
10. “Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig,
11. maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom.
12. Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.”
13. Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting toegeken.
14. Daarom behoort Hebron tot vandag toe aan Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy die Here die God van Israel getrou gevolg het.
15. Die naam van Hebron was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die naam van 'n groot man onder die Enakiete. Die oorlog was verby, die land het gerus.

Psalms 44:20-26
20. Tog het U ons verwoes; ons land het 'n puinhoop geword; U het die donker oor ons laat toesak.
21. As ons die Naam van ons God nie aangeroep het nie en 'n vreemde god om hulp gevra het,
22. sou God dit dan nie kon vasstel nie? Hy ken immers die geheime van die hart.
23. Dit is oor U dat die dood ons gedurig tref, dat ons soos slagskape behandel word.
24. Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie!
25. Waarom draai U u rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie?
26. Ons is tot in die stof verneder, ons is teen die grond.

Spreuke 14:3-3
3. Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf; die woorde van wyse mense beskerm hulle.

Lukas 11:1-28
1. Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
2. En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: “Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom.
3. Gee ons elke dag ons daaglikse brood;
4. en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie.”
5. Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het 'n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode,
6. want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’
7. En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie...’
8. Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.
9. “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word.
10. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.
11. Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis?
12. Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?
13. As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee — die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
14. Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder,
15. maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.”
16. Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra.
17. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar.
18. As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul.
19. As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is.
20. Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.
21. “Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig.
22. Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit.
23. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”
24. “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’
25. Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant.
26. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin.”
27. Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het 'n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!”
28. Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.”