A A A A A

Bybel in een jaar


Augustus 7


Job 5:1-27
1. Roep maar -- is daar iemand wat jou antwoord gee? En na wie van die heiliges sal jy gaan?
2. Want verbitterdheid vermoor die dwaas, en naywer maak die domme dood.
3. Ek self het gesien hoe 'n dwaas wortel skiet; maar skielik het ek sy woning vervloek.
4. Ver is sy kinders van geluk; en hulle word verbrysel in die poort sonder dat iemand red.
5. Wat hy geoes het, eet die hongerige op, en die haal dit selfs uit die doringheining uit; en die ondergang hyg na hulle rykdom.
6. Want onheil kom nie voort uit die stof, en moeite spruit nie uit die grond nie.
7. Maar die mens word vir moeite gebore soos die vonke boontoe vlieg.
8. Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê,
9. aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal;
10. wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde;
11. om nederiges op 'n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk.
12. Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie;
13. wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
14. Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.
15. So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.
16. So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.
17. Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
18. Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
19. In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.
20. In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.
21. As die tong g,sel, word jy weggesteek; en jy hoef nie te vrees vir verwoesting as dit kom nie.
22. Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie.
23. Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend.
24. En jy sal uitvind dat jou tent in vrede is; en as jy op jou woonplek rondkyk, sal jy niks vermis nie.
25. Ook sal jy uitvind dat jou kroos talryk is en jou nakomelinge soos die plante van die aarde.
26. Op rype leeftyd sal jy na die graf gaan, soos 'n koringgerf ingebring word op sy tyd.
27. Kyk, dit het ons nagespeur, so is dit; hoor dit, en neem jy dit ter harte.

Job 6:1-30
1. Maar Job het geantwoord en gesê:
2. Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in 'n skaal opgehef!
3. Ja, dan sou dit swaarder wees as die sand van die see; daarom is my woorde onbedagsaam.
4. Want die pyle van die Almagtige is in my, waarvan my gees die gif indrink; die verskrikkinge van God stel hulle teen my op.
5. Balk die wilde-esel by die grasspruitjies? Of bulk 'n bees by sy voer?
6. Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van 'n eier?
7. My siel weier om dit aan te raak; dit is net soos my walglike spys.
8. Ag, mag my bede maar uitkom, en mag God my verwagting maar gee!
9. En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!
10. Dan sou ek nog troos hê; ja, ek sou van vreugde opspring in onbarmhartige smart; want die woorde van die Heilige het ek nie verloën nie.
11. Wat is my krag, dat ek sou kan wag; en wat my uiteinde, dat ek geduldig sou wees?
12. Is my krag 'n krag van klip of my vlees van koper?
13. Is ek dan nie hulpeloos in myself nie, en is redding nie vir my weggedrywe nie?
14. Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.
15. My broers het troueloos gehandel soos 'n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop,
16. wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg --
17. in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.
18. Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan.
19. Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag.
20. Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld.
21. So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees.
22. Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my 'n omkoopgeskenk uit julle vermoë?
23. Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne?
24. Onderrig my, en ,k sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het.
25. Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig 'n bestraffing uit, van julle afkomstig?
26. Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van 'n wanhopige is vir die wind!
27. Ja, julle sou 'n wees uitloot en julle vriend verhandel.
28. Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie.
29. Keer tog terug -- laat daar geen onreg wees nie! Ja, keer terug -- nog is my geregtigheid daar.
30. Is daar onreg op my tong? Of kan my verhemelte nie die onheile onderskei nie?

Psalms 92:1-7
1. 'n Psalm. 'n Lied vir die sabbatdag.
2. Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste,
3. om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;
4. by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.
5. Want U het my bly gemaak, HERE, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.
6. Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!
7. 'n Dom mens weet nie, en 'n dwaas verstaan dit nie:

Spreuke 22:16-16
16. Wie die arme verdruk, bevoordeel hom; hy wat aan die ryke gee, verarm hom net.

Romeine 8:22-39
22. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.
23. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.
24. Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?
25. Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.
26. En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
27. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
28. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
29. Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;
30. en die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik.
31. Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God v¡r ons is, wie kan teen ons wees?
32. Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
33. Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
34. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
35. Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
36. Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.
37. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
38. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge
39. of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.