A A A A A

Bybel in een jaar


Augustus 26


Prediker 1:1-18
1. Die woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.
2. Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!
3. Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?
4. Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.
5. En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan.
6. Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug.
7. Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.
8. Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.
9. Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.
10. Is daar iets waarvan 'n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het.
11. Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie.
12. Ek, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem.
13. En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is 'n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
14. Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind.
15. Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie.
16. Ek het met myself gespreek en gesê: Kyk, ,k het groot en altyd groter wysheid verwerf bo almal wat voor my oor Jerusalem gewees het, en my hart het baie wysheid en kennis gesien.
17. Maar toe ek my hart daarop gerig het om wysheid en kennis, onverstandigheid en dwaasheid te leer ken, het ek ingesien dat dit ook 'n gejaag na wind is.
18. Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder smart.

Prediker 2:1-26
1. Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs.
2. Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?
3. Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik -- terwyl my hart my met wysheid sou lei -- en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae.
4. Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant.
5. Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.
6. Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei.
7. Ek het slawe en slavinne gekoop en ook die verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het.
8. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte.
9. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly.
10. En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.
11. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het -- en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.
12. Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat n die koning kom? Wat lankal gedoen is!
13. Wel het ek gesien dat die wysheid die voorkeur het bo die dwaasheid soos die lig die voorkeur het bo die duisternis:
14. die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar ek het ook ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref.
15. Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref; waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit ook tevergeefs is.
16. Want daar sal op die duur net so min gedagtenis wees van die wyse as van die dwaas, omdat in die dae wat kom, alles lankal vergeet is; en hoe sterf die wyse net soos die dwaas!
17. Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind.
18. En ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het, dat ek dit moet oorlaat aan 'n mens wat n my sal kom.
19. En wie weet of hy 'n wyse sal wees of 'n dwaas? Tog sal hy heers oor al my arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son. Ook dit is dan tevergeefs.
20. Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.
21. Want daar is 'n mens wat hom met wysheid en kennis en bekwaamheid vermoei het; tog moet hy dit as deel oorgee aan 'n mens wat daaraan geen moeite bestee het nie. Ook dit is tevergeefs en 'n groot euwel.
22. Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee hy hom vermoei onder die son?
23. Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie. Dit is dan ook tevergeefs.
24. Dit is nie 'n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.
25. Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?
26. Want aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.

Psalms 102:1-11
1. 'n Gebed van 'n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE.
2. o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom!
3. Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou!
4. Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos 'n vuurherd.
5. Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet.
6. Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees.
7. Ek is soos 'n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos 'n uil op die puinhope.
8. Ek is slapeloos en het geword soos 'n eensame voël op die dak.
9. Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as 'n vloek.
10. Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane,
11. vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp.

Spreuke 24:1-2
1. Wees nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie.
2. Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite.

1 Korintiërs 7:20-40
20. Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.
21. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van.
22. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, 'n slaaf van Christus.
23. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.
24. Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God.
25. In verband met die maagde het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat deur die barmhartigheid van die Here betroubaar is.
26. Ek meen dat dit goed is vanweë die aanstaande nood -- dat dit goed is vir 'n mens om so te bly.
27. Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie; is jy los van 'n vrou, moenie 'n vrou soek nie.
28. Maar as jy tog trou, sondig jy nie; en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar sulke mense sal verdrukking hê vir die vlees, en ek wil julle spaar.
29. Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie;
30. en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie;
31. en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.
32. En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag,
33. maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag.
34. Daar is ook onderskeid tussen 'n vrou en 'n maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man sal behaag.
35. Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie, maar met die oog op 'n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here.
36. Maar as iemand meen dat hy onwelvoeglik met sy maagd handel as sy oor die jeugdige leeftyd is, en dit so moet wees, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig nie. Laat hulle trou.
37. Maar hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy maagd te bewaar, hy doen goed.
38. Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter.
39. 'n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.
40. Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.