A A A A A

Bible in one year


May 9


1 Samuel 20:1-42
1. Toe het Dawid gevlug uit Najot by Rama, en hy het by Jonatan gekom en gevra: Wat het ek gedoen? Wat is my misdaad, en wat is my sonde voor jou vader, dat hy my lewe soek?
2. Maar hy sê vir hom: Volstrek nie! Jy sal nie sterwe nie. Kyk, my vader doen geen ding, klein of groot, sonder om dit aan my te openbaar nie; waarom sou my vader dan hierdie saak vir my wegsteek? Dit is nie so nie.
3. Toe sweer Dawid verder en sê: Jou vader weet baie goed dat ek guns in jou oë gevind het; daarom het hy gedink: Laat Jonatan dit nie weet nie, anders word hy bedroef. Maar so waar as die HERE leef en jou siel leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood!
4. En Jonatan het Dawid geantwoord: Wat jy begeer, sal ek vir jou doen.
5. Toe sê Dawid vir Jonatan: Kyk, môre is dit nuwemaan, en ek moet sekerlik met die koning saam aansit om te eet; maar laat my gaan, dat ek my wegsteek in die veld tot oormôre -aand.
6. As jou vader my inderdaad mis, moet jy sê: Dawid het my dringend verlof gevra om gou na sy stad Betlehem te loop, want daar is die jaarlikse offer vir die hele geslag.
7. As hy so sê: Goed! dan is jou dienaar veilig; maar as hy baie kwaad word, weet dan dat die onheil van sy kant vas besluit is.
8. Bewys dan guns aan jou dienaar, want jy het jou dienaar met jou saam in 'n verbond van die HERE gebring. Maar as daar by my 'n misdaad is, maak jy my dan self dood -- waarom tog sou jy my na jou vader bring?
9. Toe sê Jonatan: Moenie so dink nie! Want as ek sekerlik bemerk dat die onheil van my vader se kant vas besluit is om oor jou te kom, sou ek jou dit dan nie te kenne gee nie?
10. En Dawid het Jonatan gevra: Wie sal my dit te kenne gee of jou vader jou miskien 'n harde antwoord gee?
11. En Jonatan sê vir Dawid: Kom, laat ons uitgaan die veld in. En hulle twee het die veld ingegaan.
12. Daarop sê Jonatan vir Dawid: Die HERE, die God van Israel,is getuie dat ek my vader môre of oormôre op hierdie tyd sal uitvra; en as dit gunstig is vir Dawid, sal ek dan nie na jou stuur en jou dit openbaar nie?
13. Mag die HERE so aan Jonatan doen en so daaraan toedoen: as my vader goedvind om onheil oor jou te bring, dan sal ek jou dit openbaar en jou laat gaan, dat jy veilig kan wegkom; en mag die HERE met jou wees soos Hy met my vader gewees het.
14. En sal jy my nie, as ek dan nog lewe, die guns van die HERE bewys nie, sodat ek nie sterwe nie?
15. Jy sal ook nimmer aan my huis jou guns onttrek nie; wanneer die HERE die vyande van Dawid, een vir een, van die aarde af uitroei nie.
16. So het Jonatan dan 'n verbond gesluit met die huis van Dawid. En die HERE het dit geëis van die hand van Dawid se vyande.
17. En Jonatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad met die liefde van sy siel.
18. Verder het Jonatan vir hom gesê: M“re is dit nuwemaan, en jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees.
19. Maar oormôre moet jy sekerlik afkom en gaan na die plek waar jy jou op die werkdag weggesteek het, en jy moet langs die klip Esel gaan sit.
20. Dan sal ek drie pyle aan die kant daarvan skiet asof ek na 'n teiken skiet.
21. En kyk, ek sal die dienaar stuur en sê: Gaan soek die pyle! As ek uitdruklik aan die dienaar sê: Daar is die pyle, van jou af duskant toe, bring dit -- dan kan jy maar kom; want jy is veilig en daar is niks nie, so waar as die HERE leef!
22. Maar as ek so aan die jongman sê: Daar lê die pyle van jou af, verder -- gaan dan weg, want die HERE stuur jou weg.
23. En wat die saak aangaan wat ons bespreek het, ek en jy -- kyk, die HERE is tussen my en jou tot in ewigheid.
24. Daarop het Dawid hom in die veld weggesteek. En toe dit nuwemaan was, gaan die koning aan die maaltyd sit om te eet --
25. die koning het op sy sitplek gaan sit soos die vorige kere, op die sitplek teen die muur; en Jonatan het opgestaan, en Abner het langs Saul gesit, maar Dawid se plek was leeg.
26. En Saul het die dag niks gepraat nie, want hy het gedink: Daar het iets met hom gebeur dat hy nie rein is nie; waarlik, hy is nie rein nie.
27. Maar toe op die volgende, die tweede dag na die nuwemaan, Dawid se plek leeg was, sê Saul vir sy seun Jonatan: Waarom kom die seun van Isai gister sowel as vandag nie na die maaltyd nie?
28. En Jonatan het Saul geantwoord: Dawid het my dringend verlof gevra na Betlehem toe
29. en gesê: Laat my tog gaan, want ons het 'n familie-offer in die stad, en my broer self het my laat roep. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my tog heengaan om my broers te besoek. Daarom het hy nie aan die koning se tafel gekom nie.
30. Toe ontvlam die toorn van Saul teen Jonatan, en hy sê vir hom: Jou ontaarde, wederstrewige seun, weet ek nie dat jy die seun van Isai verkies tot jou skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie?
31. Want al die dae dat die seun van Isai op die aarde lewe, sal jy en jou koningskap nie bevestig word nie; stuur dan nou en bring hom na my, want hy moet sterwe.
32. En Jonatan het sy vader Saul geantwoord en vir hom gesê: Waarom moet hy gedood word, wat het hy gedoen?
33. Daarop gooi Saul die spies na hom om hom te tref. Toe Jonatan dan merk dat dit van sy vader se kant vas besluit was om Dawid dood te maak,
34. staan Jonatan op van die tafel in gloeiende toorn, en hy het geen brood geëet op die tweede dag van die nuwemaan nie, want hy was bedroef oor Dawid, omdat sy vader hom smadelik bejeën het.
35. Die volgende môre gaan Jonatan, volgens afspraak met Dawid, na die veld toe uit, en 'n jong dienaar met hom saam.
36. En hy sê aan die dienaar: Loop soek tog die pyle wat ek afskiet. En terwyl die dienaar loop, skiet hy 'n pyl dwarsoor hom heen.
37. Toe die dienaar dan by die plek kom waar Jonatan die pyl geskiet het, roep Jonatan die dienaar agterna en sê: Lê die pyl nie van jou af, verder nie?
38. En Jonatan roep die dienaar agterna: Maak gou, hardloop, moenie bly staan nie. En die dienaar van Jonatan het die pyl opgetel en by sy heer gekom.
39. Maar die dienaar het van niks geweet nie: net Jonatan en Dawid het van die saak geweet.
40. Toe gee Jonatan sy wapens aan die dienaar wat by hom was, en sê vir hom: Gaan, bring dit na die stad.
41. Terwyl die dienaar huis toe gaan, staan Dawid op van die suidekant en val met sy aangesig op die aarde en buig drie maal; daarna het hulle mekaar gesoen en saam geween, totdat Dawid hardop gesnik het.
42. En Jonatan sê vir Dawid: Gaan in vrede, omdat ons twee in die Naam van die HERE gesweer en gesê het: Die HERE sal tussen my en jou wees, en tussen my nageslag en jou nageslag vir altyd.

1 Samuel 21:1-15
1. En Dawid het in Nob gekom by die priester Ahim,leg; en Ahim,leg het Dawid bewend tegemoetgegaan en hom gevra: Waarom is u alleen, en is daar niemand by u nie?
2. En Dawid sê aan die priester Ahim,leg: Die koning het my 'n opdrag gegee en aan my gesê: Laat geen mens iets van die saak weet waarvoor ek jou stuur en wat ek jou opdra nie. Daarom het ek die dienaars 'n sekere plek aangewys.
3. Maar nou, wat is hier by u? Gee vyf brode in my hand, of wat beskikbaar is.
4. En die priester het Dawid geantwoord en gesê: Hier is geen gewone brood by my nie; hier is net heilige brood. As die dienaars hulle maar net vir vroue in ag geneem het.
5. Toe antwoord Dawid die priester en sê vir hom: Sekerlik is die vroue aan ons onthou soos altyd wanneer ek uittrek. Dus is die uitrustings van die dienaars heilig, alhoewel dit 'n ongewyde onderneming is -- hoeveel te meer as hulle vandag deur die uitrusting geheilig word!
6. Toe gee die priester hom die heilige brood, want daar was geen ander brood nie, behalwe die toonbrode wat voor die aangesig van die HERE weggeneem word, om vars brood neer te sit op die dag as dit weggeneem word.
7. Maar daar was 'n man uit die dienaars van Saul wat dieselfde dag opgesluit was voor die aangesig van die HERE, en sy naam was Doëg, die Edomiet, die opsigter oor die veewagters van Saul.
8. En Dawid sê vir Ahim,leg: Is hier nie 'n spies of 'n swaard by u nie? Want ek het my swaard sowel as my wapens nie met my saamgeneem nie, omdat die opdrag van die koning dringend was.
9. Toe sê die priester: Die swaard van Goliat, die Filistyn, wat u in die dal van die terpentynboom verslaan het, hier is dit in 'n mantel toegedraai, agter die skouerkleed; as u dit vir u wil neem, neem dit, want behalwe dit is hier geen ander nie. Toe sê Dawid: Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my.
10. En Dawid het hom klaargemaak en die dag van Saul af weggevlug en by Agis, die koning van Gat, gekom.
11. Maar die dienaars van Agis het hom gevra: Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Het hulle nie vir hom in die koordanse gesing nie en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende?
12. En Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bevrees geword vir Agis, die koning van Gat.
13. Daarom het hy hom voor hulle oë kranksinnig aangestel en hom mal gehou onder hulle hand en op die deure van die poort gekrap en sy speeksel in sy baard laat afloop.
14. Daarop sê Agis aan sy dienaars: Julle sien tog die man is kranksinnig, waarom bring julle hom na my toe?
15. Het ek gebrek aan kranksinniges, dat julle hierdie een bring om sy kranksinnigheid by my uit te haal? Moet so een in my huis inkom?

Psalms 59:1-5
1. Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. 'n Gedig, toe Saul gestuur het en hulle die huis laat bewaak het om hom dood te maak.
2. Red my van my vyande, o my God! Beskerm my teen my teëstanders!
3. Red my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van die manne van bloed!
4. Want kyk, hulle lê en loer op my lewe; sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o HERE!
5. Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk!

Spreuke 15:31-33
31. Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef.
32. Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand.
33. Die vrees van die HERE is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf.

Lukas 24:36-53
36. En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!
37. Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien.
38. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op?
39. Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.
40. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.
41. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet?
42. Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek.
43. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
44. En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.
45. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
46. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,
47. en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.
48. En julle is getuies van hierdie dinge.
49. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.
50. En Hy het hulle uitgelei tot by Bet nië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën.
51. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.
52. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap.
53. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.