A A A A A

Βίβλος σε ένα χρόνο


Μάιος 25


2 Samuel 21:1-22
1. En toe daar in die dae van Dawid 'n hongersnood was, drie jaar lank, jaar n jaar, het Dawid die aangesig van die HERE gesoek; en die HERE het gesê: Vanweë Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus, omdat hy die Gibeoniete omgebring het.
2. Toe roep die koning die Gibeoniete en sê vir hulle -- die Gibeoniete het naamlik nie behoort tot die kinders van Israel nie, maar by 'n oorblyfsel van die Amoriete; en hoewel die kinders van Israel vir hulle gesweer het, het Saul probeer om hulle om te bring in sy ywer vir die kinders van Israel en Juda --
3. Dawid dan het aan die Gibeoniete gesê: Wat moet ek vir julle doen, en waarmee moet ek versoening doen, dat julle die erfdeel van die HERE kan seën?
4. Daarop sê die Gibeoniete vir hom: Dit is ons teenoor Saul en sy huis nie te doen om silwer en goud nie, en dit gaan vir ons nie daarom om iemand in Israel dood te maak nie. En hy vra: Wat dink julle dan moet ek vir julle doen?
5. En hulle sê vir die koning: Die man wat ons vernietig het en planne teen ons beraam het om ons te verdelg sonder dat ons in enige grondgebied van Israel kan voortbestaan --
6. laat sewe manne van sy seuns aan ons gegee word, dat ons hulle voor die HERE kan ophang in G¡bea van Saul, die uitverkorene van die HERE! En die koning het gesê: Ek sal hulle gee.
7. Maar die koning het Mefiboset, die seun van Jonatan, die seun van Saul, verskoon vanweë die eed by die HERE wat tussen hulle was, tussen Dawid en Jonatan, die seun van Saul.
8. Toe neem die koning die twee seuns van Rispa, die dogter van Aja, wat sy vir Saul gebaar het, Armoni en Mefiboset, en die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy vir Adriël, die seun van Bars¡llai, die Meholatiet, gebaar het;
9. en hy het hulle oorgegee in die hand van die Gibeoniete, wat hulle opgehang het op die berg voor die aangesig van die HERE, sodat al sewe tesame omgekom het; en hulle is gedood in die eerste dae van die oes, in die begin van die gars-oes.
10. En Rispa, die dogter van Aja, het 'n sak geneem en dit vir haar oopgespan op die rots, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemel op hulle gegiet het, en sy het die voëls van die hemel oordag nie toegelaat om op hulle te gaan sit nie, en ook nie die diere van die veld in die nag nie.
11. Toe aan Dawid meegedeel is wat Rispa, die dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het,
12. het Dawid gegaan en die bene van Saul en die bene van sy seun Jonatan van die burgers van Jabes in G¡lead gaan haal, wat dit van die plein van Bet-San gesteel het, waar die Filistyne hulle opgehang het op die dag toe die Filistyne Saul op Gilboa verslaan het.
13. En hy het die bene van Saul en die bene van sy seun Jonatan daarvandaan weggebring. Hulle het ook die bene van die wat opgehang is, versamel,
14. en die bene van Saul en van sy seun Jonatan in die land Benjamin, in Sela, in die graf van sy vader Kis begrawe; en hulle het alles gedoen volgens die bevel van die koning. En daarna het God Hom oor die land ontferm.
15. En toe die Filistyne weer oorlog gehad het met Israel, het Dawid afgetrek, en sy dienaars saam met hom, en hulle het teen die Filistyne geveg, en Dawid het al moeg geword.
16. En Jisbi-Benob wat uit die kinders van die Refa‹ete was -- die gewig van sy spies was drie honderd sikkels koper in gewig, en hy was omgord met 'n nuwe swaard -- het gedink om Dawid te verslaan.
17. Maar Ab¡sai, die seun van Seruja, het hom gehelp en die Filistyn verslaan en hom gedood. Toe het die manne van Dawid hom besweer en gesê: U mag nie meer saam met ons uittrek na die geveg nie, dat u die lamp van Israel nie uitblus nie.
18. En daarna was daar weer oorlog met die Filistyne in Gob. Toe het S¡bbegai, die Husatiet, Saf, uit die kinders van die Refa‹ete, verslaan.
19. En daar was weer oorlog met die Filistyne in Gob; en lhanan, die seun van J äre-Orgim uit Betlehem, het Goliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos 'n wewersbalk was, verslaan.
20. En daar was weer oorlog in Gat; en daar was 'n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier en twintig in getal, en hy was ook 'n afstammeling van die Refa‹ete.
21. En hy het Israel gehoon, maar Jonatan, die seun van S¡mea, die broer van Dawid, het hom verslaan.
22. Hierdie vier was afstammelinge van die Refa‹ete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.

2 Samuel 22:1-51
1. En Dawid het die woorde van hierdie lied tot die HERE gespreek op die dag toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.
2. En hy het gesê: Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder;
3. God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my verlosser; van geweld het U my verlos.
4. Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
5. Want die golwe van die dood het my omring, strome van onheil het my oorval.
6. Bande van die doderyk het my omring, strikke van die dood het my teëgekom.
7. Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore.
8. Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.
9. Rook in sy neus het opgegaan, en 'n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.
10. En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en wolkedonkerheid was onder sy voete.
11. En Hy het op 'n g,rub gery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.
12. En Hy het duisternis rondom Hom as hutte gestel, versameling van waters, diktes van wolke.
13. Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.
14. Uit die hemel het die HERE gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor.
15. En Hy het pyle uitgestuur en hulle verstrooi, bliksems en hulle verwar.
16. En die beddings van die see het sigbaar geword, die fondamente van die wêreld is blootgelê, deur die dreiging van die HERE, vanweë die geblaas van die wind van sy neus.
17. Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, my uit groot waters getrek.
18. Hy het my verlos van my magtige vyand, van my haters, omdat hulle te sterk was vir my.
19. Hulle het my oorval op die dag van my nood, maar die HERE was my steun.
20. En Hy het my uitgelei in die ruimte, Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.
21. Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; na die reinheid van my hande het Hy my vergelde.
22. Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie.
23. Want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge -- daar het ek nie van afgewyk nie.
24. Maar ek was opreg voor Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.
25. So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na my reinheid voor sy oë.
26. By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,
27. by die reine, rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
28. En U verlos die verdrukte volk, maar u oë is teen die hoogmoediges; U verneder hulle.
29. Want U is my lamp, o HERE! En die HERE laat my duisternis opklaar.
30. Want met U loop ek 'n bende storm, met my God spring ek oor 'n muur.
31. Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.
32. Want wie is God buiten die HERE, en wie 'n rots buiten onse God?
33. Die God wat my sterk toevlug is, en Hy het vir my 'n weg volkomelik uitgesoek.
34. Hy maak my voete soos die van herte en laat my staan op my hoogtes.
35. Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms 'n koperboog span.
36. En U het my die skild van u uitredding gegee, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak.
37. U het my voetstap onder my ruim gemaak, en my enkels het nie gewankel nie.
38. Ek het my vyande agtervolg en hulle verdelg en nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie.
39. Ja, ek het hulle vernietig en hulle verbrysel, sodat hulle nie weer opgestaan het nie, maar onder my voete geval het.
40. En U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders onder my laat buk.
41. En U het my vyande vir my laat vlug; my haters, die het ek vernietig.
42. Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie; na die HERE, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.
43. Toe het ek hulle vermaal soos die stof van die aarde, soos modder van die strate het ek hulle fyngemaal, hulle vertrap.
44. En U het my gered uit die getwis van my volk; U het my bewaar as 'n hoof van nasies; 'n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.
45. Uitlanders het al kruipende na my gekom; sodra hulle van my gehoor het, was hulle gehoorsaam aan my.
46. Uitlanders word kragteloos en kom met siddering uit hulle vestings.
47. Die HERE leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God wat die rots is van my heil!
48. Die God wat my die wraak gee en volke onder my neerwerp;
49. en wat my uitlei onder my vyande uit; ja, U verhef my bo my teëstanders, U bevry my van die man van geweld.
50. Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing;
51. Hy is dit wat die verlossing van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.

Psalms 68:1-6
1. Vir die musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied.
2. God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg!
3. Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.
4. Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap.
5. Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: HERE is sy Naam; en jubel voor sy aangesig!
6. 'n Vader van die wese en 'n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.

Spreuke 17:2-4
2. 'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.
3. Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.
4. Die kwaaddoener gee ag op 'n bedrieglike lip, 'n leuenaar luister na 'n tong wat onheil stig.

Johannes 8:28-59
28. En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.
29. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.
30. Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.
31. En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.
32. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
33. Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?
34. Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n dienskneg van die sonde is.
35. En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd.
36. As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.
37. Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie.
38. Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het.
39. Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen;
40. maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie.
41. Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God.
42. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.
43. Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.
44. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.
45. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.
46. Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie?
47. Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.
48. Die Jode antwoord toe en sê vir Hom: Sê ons nie met reg dat U 'n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?
49. Jesus antwoord: Ek is nie van die duiwel besete nie; maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.
50. En Ek soek nie my eer nie; daar is Een wat dit soek en wat oordeel.
51. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.
52. Toe sê die Jode vir Hom: Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie.
53. Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit?
54. Jesus antwoord: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is.
55. En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord.
56. Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.
57. Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
58. Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.
59. Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.