A A A A A

Bybel in een jaar


Mei 22


2 Samuel 15:1-37
1. En daarna het Absalom vir hom 'n wa en perde aangeskaf en vyftig man om voor hom uit te loop.
2. Verder het Absalom gereeld vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan staan; en Absalom het elkeen wat 'n saak gehad het om na die koning te kom vir regspraak, aangeroep en gesê: Uit watter stad is jy? As hy dan antwoord: U dienaar is uit een van die stamme van Israel --
3. dan sê Absalom vir hom: Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand jou gehoor gee nie.
4. Verder het Absalom gesê: Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat elkeen wat 'n geskil of regsaak het, na my kan kom; dan sal ,k aan hom reg laat geskied.
5. En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom.
6. Op die manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het.
7. En n verloop van vier jaar het Absalom aan die koning gesê: Laat my tog gaan en my gelofte wat ek aan die HERE gedoen het, in Hebron betaal;
8. want u dienaar het 'n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gewoon het, en gesê: As die HERE my werklik in Jerusalem terugbring, sal ek die HERE dien.
9. Toe sê die koning vir hom: Gaan in vrede! En hy het hom klaargemaak en na Hebron gegaan.
10. Verder het Absalom spioene uitgestuur onder al die stamme van Israel om te sê: As julle die geluid van die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom is koning in Hebron!
11. En uit Jerusalem het twee honderd man met Absalom saamgetrek wat genooi was en in hulle onskuld gegaan het sonder dat hulle van die hele saak iets geweet het.
12. Absalom het ook, terwyl hy die slagoffers bring, Agitofel, die Giloniet, 'n raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep. So het dan die sameswering sterk geword en die mense aldeur meer by Absalom aangesluit.
13. Toe daar dan 'n boodskapper by Dawid kom en sê: Die hart van die manne van Israel is agter Absalom aan --
14. het Dawid aan al sy dienaars wat by hom in Jerusalem was, gesê: Maak klaar en laat ons vlug, want daar sal vir ons geen ontkoming wees voor Absalom uit nie! Maak gou om weg te kom, sodat hy ons nie miskien gou inhaal en onheil oor ons bring en die stad met die skerpte van die swaard verslaan nie.
15. En die dienaars van die koning sê vir die koning: Net soos my heer die koning verkies -- hier is u dienaars!
16. En die koning het uitgegaan met sy hele huis agter hom aan, maar die koning het tien byvroue agter laat bly om die huis op te pas.
17. En toe die koning met al die mense agter hom aan uitgetrek het, het hulle bly staan by die verste huis,
18. onderwyl al sy dienaars langs hom verbytrek, ook al die Kreti en al die Pleti. Ook al die Gittiete, ses honderd man wat uit Gat agter hom aan gekom het, het voor die koning verbygetrek.
19. En die koning sê vir Ittai, die Gittiet: Waarvoor sou jy ook met ons saamgaan? Draai om en bly by die koning, want jy is 'n uitlander en ook 'n balling uit jou woonplek.
20. Jy het gister gekom, en vandag sou ek jou laat rondswerwe om met ons saam te trek terwyl ek wie weet waarheen gaan! Draai om, en bring jou broers terug. Mag guns en trou met jou wees!
21. Maar Ittai het die koning geantwoord en gesê: So waar as die HERE leef en my heer die koning leef, voorwaar, op die plek waar my heer die koning sal wees vir dood of vir lewe, daar sal u dienaar sekerlik ook wees!
22. Toe sê Dawid vir Ittai: Gaan, trek dan verby! En Ittai, die Gittiet, het verbygetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.
23. En die hele land het hardop gehuil terwyl al die mense verbytrek; en die koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad na die woestyn.
24. En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergesit -- Abjatar het ook opgetrek -- totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.
25. Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien.
26. Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie -- hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë.
27. Verder het die koning aan die priester Sadok gesê: U is tog siener? Gaan in vrede na die stad terug, en julle twee seuns, Ah¡ma„s, jou seun, en Jonatan, die seun van Abjatar, met julle saam.
28. Kyk, ek vertoef by die woestyndriwwe totdat daar 'n woord van julle kom om my in te lig.
29. En Sadok en Abjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar gebly.
30. En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween.
31. Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitofel is onder die samesweerders met Absalom saam, het Dawid gesê: o HERE, verydel tog die raad van Agitofel!
32. En toe Dawid tot bo-op die top kom, waar hulle God aanbid het, ontmoet Husai, die Arkiet, hom daar, met geskeurde rok en grond op sy hoof.
33. En Dawid sê vir hom: As jy saam met my verder gaan, sal jy my tot 'n las wees.
34. Maar as jy teruggaan na die stad en vir Absalom sê: U dienaar, o koning, wil ek wees; tevore was ek wel u vader se dienaar, maar nou is ek u dienaar -- dan kan jy vir my die raad van Agitofel verydel.
35. En is die priesters Sadok en Abjatar nie daar saam met jou nie? Alles wat jy dan hoor uit die huis van die koning, moet jy aan Sadok en Abjatar, die priesters, te kenne gee.
36. Kyk, hulle twee seuns is daar by hulle, Ah¡ma„s van Sadok en Jonatan van Abjatar, en deur hulle moet julle alles wat julle verneem, aan my laat weet.
37. Daarop het Husai, die vriend van Dawid, in die stad gekom, terwyl Absalom aankom na Jerusalem.

2 Samuel 16:1-23
1. Nadat Dawid van die top af 'n entjie verder getrek het, kom Siba, die dienaar van Mefiboset, meteens hom tegemoet met 'n paar opgesaalde esels en op hulle twee honderd brode en honderd rosynekoeke en honderd somervrugte en 'n sak wyn.
2. En die koning het Siba gevra: Wat wil jy hiermee maak? En Siba sê: Die esels is vir die huis van die koning om op te ry, en die brood en die somervrugte vir die dienaars om te eet, en die wyn vir die vermoeides in die woestyn om te drink.
3. En die koning vra: Maar waar is die seun van jou heer? En Siba sê vir die koning: Kyk, hy het daar in Jerusalem gebly, want hy dink: Vandag sal die huis van Israel my vader se koningskap aan my teruggee.
4. Daarop sê die koning vir Siba: Kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is joue. En Siba sê: Ek buig my neer! Mag ek genade vind in u oë, my heer die koning!
5. En toe koning Dawid tot by Bahurim gekom het, kom daarvandaan juis 'n man te voorskyn uit die geslag van die huis van Saul met die naam van S¡me‹, die seun van Gera; hy het uitgekom en gedurigdeur gevloek
6. en Dawid en al die dienaars van koning Dawid met klippe gegooi, alhoewel al die mense en al die helde aan sy regter-- en aan sy linkerkant was.
7. En dit het S¡me‹gesê terwyl hy vloek: Weg, weg, jou bloedvergieter en jou deugniet!
8. Die HERE het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom; en die HERE het die koningskap in die hand van jou seun Absalom gegee, en hier is jy nou in jou ongeluk, omdat jy 'n bloedvergieter is.
9. Toe vra Ab¡sai, die seun van Seruja, vir die koning: Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek? Laat ek tog oorstap en sy kop afslaan!
10. Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Seruja? As hy vloek, en as die HERE aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom maak jy so?
11. Verder het Dawid aan Ab¡sai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die HERE het hom dit beveel.
12. Miskien sal die HERE my ellende aansien en sal die HERE my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref.
13. Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl S¡me‹al langs hom aan die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en stof maak.
14. En moeg het die koning en al die mense wat by hom was, by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.
15. Intussen het Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, in Jerusalem aangekom, en Agitofel was by hom.
16. En net toe Husai, die Arkiet, die vriend van Dawid, by Absalom kom, sê Husai vir Absalom: Mag die koning leef, mag die koning leef!
17. Maar Absalom vra vir Husai: Is dit jou liefde teenoor jou vriend? Waarom het jy nie saam met jou vriend getrek nie?
18. Toe sê Husai vir Absalom: Nee, maar aan hom wat die HERE verkies, en hierdie volk en al die manne van Israel, aan hom behoort ek, en by hom sal ek bly.
19. En ten tweede: Wie sal ,k dien? Is dit nie voor die aangesig van sy seun nie? Soos ek voor u vader gedien het, so sal ek voor u wees.
20. Daarop sê Absalom vir Agitofel: Julle moet raad gee onder mekaar wat ons moet doen.
21. En Agitofel sê vir Absalom: Gaan in by die byvroue van u vader wat hy laat agter bly het om die huis op te pas. Dan sal die hele Israel hoor dat u u gehaat gemaak het by u vader, en die hande van almal wat by u is, sal versterk word.
22. Hulle het toe vir Absalom 'n tent op die dak opgeslaan, en Absalom het voor die oë van die hele Israel by die byvroue van sy vader ingegaan.
23. En die raad wat Agitofel in die dae gegee het, was asof 'n mens die woord van God geraadpleeg het. So was elke raad van Agitofel vir Dawid sowel as vir Absalom.

Psalms 66:8-15
8. Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem --
9. wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.
10. Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter.
11. U het ons in die net gebring, 'n swaar las op ons heupe gelê.
12. U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.
13. Ek sal met brandoffers in u huis ingaan; ek sal U my geloftes betaal,
14. wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was.
15. Brandoffers van vet diere sal ek U bring saam met offerrook van ramme; ek sal beeste saam met bokke berei. Sela.

Spreuke 16:27-30
27. 'n Deugniet grawe 'n kuil van onheil, en op sy lippe is soos 'n brandende vuur.
28. 'n Man van valse streke saai tweedrag, en 'n kwaadstoker skei vriende van mekaar.
29. 'n Man van geweld verlei sy naaste en lei hom op 'n weg wat nie goed is nie.
30. Hy wat sy oë toemaak om valsheid te bedink, wat sy lippe vasknyp, het die kwaad alreeds gedoen.

Johannes 7:1-27
1. En daarna het Jesus in Galil,a rondgegaan, want Hy wou nie in Judiarondgaan nie, omdat die Jode probeer het om Hom dood te maak.
2. En die fees van die Jode, die huttefees, was naby.
3. Sy broers het toe vir Hom gesê: Vertrek hiervandaan en gaan na Jud,a, sodat u dissipels ook u werke kan sien wat U doen.
4. Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld.
5. Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie.
6. Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar.
7. Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is.
8. Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie.
9. En nadat Hy dit aan hulle gesê het, het Hy in Galil,a gebly.
10. Maar nadat sy broers opgegaan het, toe het Hy ook opgegaan na die fees, nie openlik nie, maar in die geheim.
11. En die Jode het Hom op die fees gesoek en gesê: Waar is Hy?
12. En daar is baie oor Hom gemompel onder die skare. Sommige het gesê: Hy is goed. Ander weer het gesê: Nee, maar Hy mislei die skare.
13. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode.
14. En toe dit al in die middel van die fees was, het Jesus opgegaan na die tempel en geleer.
15. En die Jode het hulle verwonder en gesê: Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?
16. Jesus antwoord hulle en sê: My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het.
17. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.
18. Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, Hy is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie.
19. Het Moses julle nie die wet gegee nie? En niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My om die lewe bring?
20. Die skare antwoord en sê: U is van die duiwel besete; wie wil U om die lewe bring?
21. Jesus antwoord en sê vir hulle: Een werk het Ek gedoen, en julle verwonder julle almal.
22. Daarom het Moses julle die besnydenis gegee -- nie dat dit van Moses is nie, maar van die vaders -- en op die sabbat besny julle 'n mens.
23. As 'n mens die besnydenis op die sabbat ontvang, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek 'n mens op die sabbat heeltemal gesond gemaak het?
24. Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel.
25. Daarop sê sommige van die inwoners van Jerusalem: Is dit nie Hy wat hulle soek om dood te maak nie?
26. En kyk, Hy spreek openlik en hulle sê vir Hom niks nie! Sou die owerstes dan waarlik weet dat Hy werklik die Christus is?
27. En hierdie man -- ons weet van waar Hy is; maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand van waar Hy is nie.