A A A A A

Bybel in een jaar


April 30


1 Samuel 1:1-28
1. Daar was 'n sekere man uit Ramat im, 'n Sufiet, uit die gebergte van Efraim, en sy naam was lkana, die seun van Jeroham, die seun van El¡hu, die seun van Tohu, die seun van Suf, 'n Efratiet.
2. En hy het twee vroue gehad; die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Peninna; en Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.
3. En die man het van jaar tot jaar opgegaan uit sy stad om te aanbid en aan die HERE van die leërskare te offer in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en P¡nehas, priesters van die HERE was.
4. En op 'n dag het lkana geoffer en aan sy vrou Peninna en al haar seuns en haar dogters dele van die offervleis gegee;
5. maar aan Hanna het hy 'n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit.
6. En haar mededingster het haar ook bitterlik geterg om haar te vertoorn, omdat die HERE haar moederskoot toegesluit het.
7. So het hy gedoen van jaar tot jaar, telkens as sy opgaan in die huis van die HERE. So het sy haar geterg, dat sy geween het en nie wou eet nie.
8. En haar man lkana sê vir haar: Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef? Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?
9. Toe staan Hanna op nadat hulle geëet en nadat hulle gedrink het in Silo, terwyl die priester Eli op die stoel sit by die deurpos van die tempel van die HERE.
10. En bitter bedroef het sy tot die HERE gebid en bitterlik geween;
11. en sy het 'n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd 'n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie.
12. En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee --
13. want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie -- het Eli gedink dat sy dronk was.
14. En Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos 'n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg.
15. Maar Hanna antwoord en sê: Nee, my heer, ek is 'n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort.
16. Hou tog nie u dienares vir 'n deugniet nie, want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek.
17. En Eli antwoord en sê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het.
18. Daarop sê sy: Mag u dienares guns in u oë vind. Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders.
19. Toe het hulle die môre vroeg klaargemaak en voor die aangesig van die HERE aanbid en teruggegaan en by hulle huis in Rama gekom; en lkana het sy vrou Hanna beken, en die HERE het aan haar gedink.
20. En by die wisseling van die jaar het Hanna, wat swanger was, 'n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die HERE gebid.
21. Toe die man lkana dan met sy hele huisgesin opgaan om aan die HERE die jaarlikse offer en sy gelofte-offer te bring,
22. het Hanna nie opgegaan nie; maar sy het aan haar man gesê: Eers wanneer die seun gespeen is, sal ek hom bring, dat hy kan verskyn voor die aangesig van die HERE en daar vir altyd bly.
23. En haar man lkana het aan haar gesê: Doen wat goed is in jou oë, bly totdat jy hom gespeen het; mag die HERE net sy woord bevestig. Die vrou het toe gebly en haar seun gesoog totdat sy hom gespeen het.
24. En sodra sy hom gespeen het, het sy hom met haar saam gebring, met drie bulle en 'n efa meel en 'n sak wyn, en sy het hom gebring in die huis van die HERE in Silo. En die seun was nog jonk.
25. En hulle het die bul geslag en die seun by Eli gebring;
26. en sy het gesê: Ag, my heer, so waar as u siel leef, my heer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die HERE te bid.
27. Om hierdie seun het ek gebid, en die HERE het my bede aan my gegee wat ek van Hom gebid het.
28. So staan ek hom dan ook af aan die HERE al die dae wat hy leef; hy is aan die HERE afgestaan. En hy het die HERE daar aanbid.

1 Samuel 2:1-36
1. Toe het Hanna gebid en gesê: My hart jubel in die HERE, my horing is hoog in die HERE; my mond is wyd oop oor my vyande, want ek verheug my in u verlossing.
2. Niemand is heilig soos die HERE nie; ja, daar is niemand buiten U, en daar is geen rots soos onse God nie.
3. Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie; want die HERE is 'n God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef.
4. Die boog van die helde is verbreek; maar die wat gestruikel het, is met krag omgord.
5. Die wat versadig was, het hulle vir brood verhuur; maar die wat honger gehad het, rus. Selfs die onvrugbare het sewe gebaar, maar sy wat ryk aan kinders was, het verwelk.
6. Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom.
7. Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy.
8. Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle 'n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.
9. Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose mense kom om in duisternis; want 'n mens oorwin nie deur krag nie.
10. Die wat met die HERE twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die HERE oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.
11. Daarna het lkana na sy huis, na Rama, gegaan, terwyl die seun by die priester Eli die HERE bly dien het.
12. Maar die seuns van Eli was deugniete; hulle het die HERE nie erken nie.
13. Die handelwyse van die priesters teenoor die volk was so: As iemand 'n offer slag, dan kom die dienaar van die priester, net soos die vleis kook, met die drietand-vurk in sy hand,
14. en steek in die kastrol of in die pot of in die pan of in die skottel: alles wat die vurk optrek, neem die priester vir homself. So het hulle met al die Israeliete gedoen wat daar, in Silo, gekom het.
15. Selfs voordat hulle die vet aan die brand steek, kom die dienaar van die priester en sê aan die man wat offer: Gee vleis om vir die priester te braai, want hy sal nie gekookte nie, maar net rou vleis van jou neem.
16. As die man vir hom sê: Laat hulle net eers die vet aan die brand steek, neem dan vir jou soos jou siel begeer -- dan sê hy: Nee, maar jy moet dit nou gee; en so nie, dan neem ek dit met geweld.
17. En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag.
18. Maar Samuel het as seun gedien voor die aangesig van die HERE, omgord met 'n linne-skouerkleed.
19. En sy moeder was gewoond om vir hom 'n klein manteltjie te maak wat sy van jaar tot jaar vir hom gebring het as sy met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring.
20. Dan seën Eli lkana en sy vrou en sê: Mag die HERE jou 'n nageslag gee uit hierdie vrou ter vergoeding van wat aan die HERE afgestaan is. Daarop gaan hulle na sy woonplek toe.
21. En die HERE het ag gegee op Hanna, sodat sy swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gebaar het; en die seun Samuel het groot geword by die HERE.
22. Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms,
23. dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?
24. Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree.
25. As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as 'n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.
26. Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense.
27. En daar het 'n man van God by Eli gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Egipte in die huis van Farao was nie?
28. En Ek het hom vir My as priester uitgekies uit al die stamme van Israel om op my altaar te klim om die reukwerk aan die brand te steek, om die skouerkleed te dra voor my aangesig; en Ek het aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die kinders van Israel gegee.
29. Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel?
30. Daarom spreek die HERE, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.
31. Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap, sodat daar geen bejaarde in jou huis sal wees nie.
32. Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou, in alles waarin Hy aan Israel goed sal doen; en in jou huis sal daar al die dae geen bejaarde wees nie.
33. Maar Ek sal, om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag, een vir jou nie uitroei van my altaar af nie; en al wat aangroei uit jou huis, sal op manlike leeftyd sterwe.
34. En dit sal vir jou die teken wees wat oor jou twee seuns, oor Hofni en P¡nehas, sal kom: Op een dag sal hulle altwee sterwe.
35. En Ek sal vir My 'n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom 'n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.
36. En almal wat in jou huis oorbly, sal kom om hulle voor hom neer te buig vir 'n geldstukkie en 'n broodjie, en hulle sal sê: Voeg my tog by een van die priesterordes, dat ek 'n stukkie brood kan eet.

1 Samuel 3:1-21
1. En die seun Samuel het die HERE gedien voor Eli, en die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie.
2. In die tyd dan terwyl Eli op sy plek lê en slaap -- sy oë het al begin swak word, sodat hy nie kon sien nie --
3. toe die lamp van God nog nie doodgegaan het nie, en Samuel lê en slaap in die tempel van die HERE waar die ark van God was,
4. het die HERE na Samuel geroep; en hy het geantwoord: Hier is ek.
5. Daarop loop hy na Eli en sê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie; gaan slaap maar weer. Hy het toe geloop en gaan lê.
6. Verder het die HERE Samuel weer geroep, en Samuel het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie, my seun, gaan slaap maar weer.
7. Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie.
8. En die HERE het Samuel weer geroep vir die derde maal; en hy het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Toe merk Eli dat die HERE die seun geroep het.
9. Daarom het Eli vir Samuel gesê: Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy antwoord: Spreek, HERE, want u kneg hoor. Toe het Samuel geloop en op sy plek gaan lê.
10. Toe het die HERE gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor.
11. Toe het die HERE aan Samuel gesê: Kyk, Ek gaan 'n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit.
12. Di, dag sal Ek aan Eli vervul alles wat Ek oor sy huis gespreek het, van begin tot end.
13. En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie.
14. En daarom sweer Ek aangaande die huis van Eli: Waarlik die ongeregtigheid van die huis van Eli sal tot in ewigheid nie deur slagoffer of spysoffer versoen word nie.
15. En Samuel het bly lê tot die môre toe. En hy het die deure van die huis van die HERE oopgemaak; maar Samuel was bevrees om die gesig aan Eli mee te deel.
16. En Eli het Samuel geroep en gesê: Samuel, my seun! En hy antwoord: Hier is ek.
17. Toe vra hy: Wat is die woord wat Hy met jou gespreek het? Verberg dit tog nie vir my nie. Mag God so aan jou doen en so daaraan toedoen as jy iets van al die woorde wat Hy met jou gespreek het, vir my verberg.
18. En Samuel het hom al die woorde meegedeel, en niks vir hom verberg nie. En hy het gesê: Hy is die HERE; laat Hom doen wat goed is in sy oë.
19. En Samuel het groot geword, en die HERE was met hom; en Hy het nie een van al sy woorde onvervuld laat bly nie.
20. En die hele Israel van Dan tot Bers,ba het erken dat Samuel betroubaar was as 'n profeet van die HERE.
21. En die HERE het weer verskyn in Silo; want die HERE het Hom geopenbaar aan Samuel in Silo deur die woord van die HERE.

Psalms 53:1-6
1. Vir die musiekleier; op die wysie van: "M halat." 'n Onderwysing van Dawid.
2. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie.
3. God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra.
4. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.
5. Het die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep God nie aan nie.
6. D r het skrik hulle oorweldig sonder dat daar skrik was; want God het die beendere verstrooi van hom wat jou beleër het; jy het hulle beskaamd gemaak, want God het hulle verwerp. [ (Psalms 53:7) Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As God die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees. ]

Spreuke 15:8-11
8. Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.
9. Die wandel van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.
10. 'n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe.
11. Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders!

Lukas 20:27-47
27. En sommige van die Sadduseërs het gekom -- hulle wat ontken dat daar 'n opstanding is -- en Hom gevra
28. en gesê: Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se getroude broer sterwe en hy sterf sonder kinders, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek.
29. Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en kinderloos gesterwe.
30. En die tweede het die vrou geneem, en hy het ook kinderloos gesterwe.
31. En die derde het haar geneem; en net so al sewe. En hulle het geen kinders nagelaat nie en het gesterwe.
32. En ten laaste het die vrou ook gesterwe.
33. In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees? want al sewe het haar as vrou gehad.
34. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee;
35. maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie.
36. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.
37. En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.
38. Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.
39. En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en sê: Meester, U het goed gespreek.
40. En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie.
41. Toe sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is?
42. En Dawid self sê in die boek van die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand
43. totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete.
44. Dawid noem Hom dan Here, en hoe is Hy sy seun?
45. En terwyl die hele volk luister, sê Hy vir sy dissipels:
46. Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye.
47. Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.