A A A A A

Bible in one year


April 28


Rut 1:1-22
1. En in die dae toe die rigters geregeer het, was daar hongersnood in die land; daarom het 'n man uit Betlehem-Juda weggetrek om as vreemdeling te vertoef in die veld van Moab, hy en sy vrou en sy twee seuns.
2. En die naam van die man was Elim,leg en die naam van sy vrou Naomi en die naam van sy twee seuns Maglon en Giljon, Efratiete, uit Betlehem-Juda, en hulle het gekom in die veld van Moab en daar gebly.
3. En Elim,leg, die man van Naomi, het gesterwe, maar sy met haar twee seuns het oorgebly.
4. En hulle het vir hulle Moabitiese vroue geneem; die naam van die een was Orpa en die naam van die ander Rut; en hulle het daar omtrent tien jaar gebly.
5. En toe Maglon en Giljon altwee sterwe, en die vrou sonder haar twee seuns en haar man oorbly,
6. het sy haar gereedgemaak met haar skoondogters en teruggegaan uit die veld van Moab, want sy het in die veld van Moab gehoor dat die HERE op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee.
7. So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan,
8. sê Naomi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het.
9. Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween
10. en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk.
11. Maar Naomi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word?
12. Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar --
13. sou julle in die geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in die geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my uitgestrek is.
14. Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.
15. Daarop sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan!
16. Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.
17. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen -- net die dood sal skeiding maak tussen my en u.
18. Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek.
19. En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naomi?
20. Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naomi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen.
21. Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou julle my Naomi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?
22. So het Naomi dan teruggekeer en Rut, die Moabitiese, haar skoondogter wat saam met haar uit die veld van Moab teruggekom het; en hulle het in Betlehem gekom in die begin van die gars-oes.

Rut 2:1-23
1. En Naomi het 'n bloedverwant gehad van haar man se kant, 'n vermoënde man, uit die geslag van Elim,leg, wie se naam Boas was.
2. En Rut, die Moabitiese, het vir Naomi gesê: Laat ek tog die land ingaan en are optel agter die een in wie se oë ek genade sal vind. Toe antwoord sy haar: Gaan my dogter.
3. Daarop het sy heengegaan, en gekom en are opgetel op die land agter die snyers. En gelukkig kom sy op 'n stuk land af wat behoort aan Boas, uit die geslag van Elim,leg.
4. En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle het hom geantwoord: Mag die HERE u seën!
5. Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie jong vrou?
6. En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naomi uit die veld van Moab teruggekom het;
7. en sy het gesê: Kan ek maar are optel en insamel by die gerwe agter die snyers? Sy het toe gekom en gebly van vanmôre af tot nou toe; sy het maar min daar in die huis gesit.
8. Toe sê Boas vir Rut: Luister tog, my dogter: jy moenie op 'n ander land gaan are optel nie, en jy mag ook nie hiervandaan weggaan nie; maar jy moet jou by my diensmeisies aansluit.
9. Met die oë op die land wat hulle afsny, moet jy agter hulle aan loop. Het ek die dienaars nie bevel gegee om jou nie aan te raak nie? En as jy dors het, gaan dan na die kanne en drink van wat die dienaars skep.
10. Toe val sy op haar aangesig en buig na die aarde toe en sê vir hom: Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek 'n vreemdeling is?
11. En Boas antwoord en sê vir haar: Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het n die dood van jou man, en dat jy jou vader en jou moeder en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk getrek het wat jy gister en eergister nie geken het nie.
12. Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.
13. Toe sê sy: So vind ek dan genade in u oë, my heer! Want u het my getroos en na die hart van u dienares gespreek, alhoewel ek nie soos een van u dienaresse is nie.
14. En teen etenstyd het Boas vir haar gesê: Kom hierheen en eet van die brood en steek jou stukkie in die asyn. Daarop gaan sy langs die snyers sit, en hy het haar gebraaide koring gegee, en sy het geëet en versadig geword en oorgehou.
15. Toe sy weer opstaan om are op te tel, het Boas sy dienaars bevel gegee en gesê: Sy mag ook tussen die gerwe optel, en julle mag haar nie beledig nie.
16. En julle moet ook so nou en dan vir haar uit die bondels uittrek en dit laat lê, dat sy dit kan optel; en julle mag haar nie keer nie.
17. En sy het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit omtrent 'n efa gars.
18. En sy het dit weggedra; en toe sy in die stad kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het; ook het sy uitgehaal en aan haar gegee wat sy oorgehou het nadat sy versadig was.
19. Daarop vra haar skoonmoeder haar: Waar het jy vandag opgetel, en waar het jy gewerk? Mag hy geseënd wees wat in jou belang gestel het! En sy vertel haar skoonmoeder by wie sy gewerk het, en sê: Die naam van die man by wie ek vandag gewerk het, is Boas.
20. En Naomi sê vir haar skoondogter: Mag hy geseënd wees deur die HERE, wat sy guns aan lewende en dode nie onttrek het nie. Verder sê Naomi vir haar: Die man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers.
21. Toe sê Rut, die Moabitiese: Hy het ook nog vir my gesê: By my dienaars moet jy aansluit totdat hulle klaar is met die hele oes wat aan my behoort.
22. Daarop het Naomi haar skoondogter Rut geantwoord: Dit is goed, my dogter, dat jy met sy diensmeisies saam uitgaan en aan jou geen kwaad op 'n ander land aangedoen word nie.
23. So het sy dan by die diensmeisies van Boas aangesluit om are op te tel totdat hulle met die gars-oes en die koringoes klaar was; en sy het by haar skoonmoeder gewoon.

Psalms 52:1-5
1. Vir die musiekleier. 'n Onderwysing van Dawid.
2. toe Doëg, die Edomiet, gekom het en aan Saul te kenne gegee en aan hom gesê het: Dawid het in die huis van Ahim,leg ingegaan.
3. Wat beroem jy jou in die kwaad, o geweldige? Die goedertierenheid van God duur die hele dag!
4. Jou tong beraam onheil, soos 'n geslypte skeermes, o werker van bedrog!
5. Jy hou meer van kwaad as van goed, van die leuen meer as om geregtigheid te spreek. Sela.

Spreuke 15:4-5
4. Sagtheid van tong is 'n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.
5. Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.

Lukas 19:28-48
28. En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.
29. En toe Hy naby B,tfag, en Bet nië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur
30. en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom.
31. En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? -- moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig.
32. En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het.
33. En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los?
34. En hulle antwoord: Die Here het hom nodig.
35. Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit.
36. En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad.
37. En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met 'n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het,
38. terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!
39. En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels!
40. En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.
41. En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween
42. en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.
43. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit.
44. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.
45. En toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag.
46. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is 'n huis van gebed. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.
47. En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring;
48. en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.