A A A A A

Bybel in een jaar


Maart 29


Deuteronomium 19:1-21
1. As die HERE jou God die nasies uitroei wie se land die HERE jou God jou sal gee, en jy hulle uit hul besitting verdrywe en in hulle stede en in hulle huise woon,
2. dan moet jy vir jou drie stede afsonder in jou land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem.
3. Jy moet vir jou die pad regmaak en jou grondgebied wat die HERE jou God jou laat erwe, in drie dele verdeel, sodat elkeen wat 'n doodslag begaan het, daarheen kan vlug.
4. En dit is die saak van hom wat 'n doodslag begaan het, wat daarheen vlug, dat hy kan lewe: hy wat sy naaste sonder opset doodslaan, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie;
5. en hy wat saam met sy naaste in die bos gaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap, en die yster glip van die steel af en tref sy naaste, sodat hy sterwe -- hy moet in een van hierdie stede vlug om in die lewe te bly;
6. sodat die bloedwreker hom wat 'n doodslag begaan het, nie agtervolg as sy hart verhit is en hom inhaal -- omdat die pad lank is -- en hom doodslaan nie, terwyl hy die dood nie verdien het nie, omdat hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie.
7. Daarom gee ek jou bevel en sê: Drie stede moet jy vir jou afsonder.
8. En as die HERE jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het, en jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou vaders te gee
9. -- as jy sorgvuldig al hierdie gebooie hou wat ek jou vandag beveel om dit te doen, om die HERE jou God lief te hê en altyd in sy weë te wandel -- dan moet jy vir jou nog drie stede by hierdie drie byvoeg,
10. sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, en bloedskuld op jou kom nie.
11. Maar as iemand sy naaste vyandig is en hom voorlê en teen hom opstaan en hom lewensgevaarlik slaan, sodat hy sterwe, en hy in een van hierdie stede vlug,
12. dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal, en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee, dat hy kan sterwe.
13. Jou oog mag hom nie verskoon nie, maar jy moet die onskuldige bloed uit Israel wegdoen, dat dit met jou goed kan gaan.
14. Jou naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie.
15. Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal 'n saak van krag wees.
16. As 'n kwaadwillige getuie teen iemand optree om van 'n oortreding teen hom te getuig,
17. dan moet die twee manne wat die regsaak het, gaan staan voor die aangesig van die HERE, voor die priesters en die regters wat daar in die dae sal wees.
18. En die regters moet terdeë ondersoek doen, en is die getuie 'n valse getuie, het hy vals teen sy broer getuig,
19. dan moet julle met hom doen soos hy gedink het om met sy broer te doen; so moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
20. En die ander moet dit hoor en vrees en nie meer verder by jou so iets verkeerds doen nie.
21. En jou oog mag nie verskoon nie: lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet.

Deuteronomium 20:1-20
1. As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, 'n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die HERE jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou.
2. En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek;
3. en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie;
4. want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee.
5. Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat 'n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie.
6. En wie is die man wat 'n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie.
7. En wie is die man wat hom met 'n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie.
8. Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.
9. En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word.
10. As jy naby 'n stad kom om daarteen te veg, moet jy dit vrede aanbied.
11. En as dit jou 'n antwoord van vrede gee en vir jou oopmaak, moet die hele volk wat daarin gevind word, aan jou dienspligtig wees en jou dien.
12. Maar as dit geen vrede met jou sluit nie, maar oorlog teen jou wil voer, moet jy dit beleër.
13. En die HERE jou God sal dit in jou hand gee, en jy moet al die manne daarin met die skerpte van die swaard verslaan;
14. net die vroue en die kinders en die vee en alles wat in die stad is -- die hele buit moet jy vir jou roof; en jy moet die buit van jou vyande eet wat die HERE jou God jou gegee het.
15. So moet jy met al die stede maak wat baie ver van jou af is, wat nie by die stede van hierdie nasies behoort nie.
16. Maar van die stede van hierdie volke wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie.
17. Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kana„niete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het;
18. sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen die HERE julle God sondig nie.
19. As jy 'n stad baie lank beleër deur oorlog daarteen te voer om dit te verower, moet jy sy bome nie verwoes deur die byl daarteen te swaai nie; maar jy mag daarvan eet en mag dit nie afkap nie; want is die bome van die veld dan mense, dat hulle deur jou in beleëring moet kom?
20. Net bome waarvan jy weet dat dit geen vrugtebome is nie, die mag jy verwoes en afkap; en jy moet teen die stad wat teen jou oorlog voer, 'n skans bou totdat dit val.

Psalms 38:1-8
1. 'n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer.
2. o HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.
3. Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.
4. Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie.
5. Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos 'n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.
6. My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid.
7. Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou;
8. want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie.

Spreuke 12:23-25
23. 'n Skrander mens verberg sy kennis, maar die hart van die dwase roep hulle sotheid uit.
24. Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid.
25. Bekommernis in die hart van 'n mens druk dit neer, maar 'n vriendelike woord vrolik dit op.

Lukas 4:31-44
31. En Hy het afgekom na Kap,rnam, 'n stad van Galil,a, en hulle op die sabbat geleer.
32. En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.
33. En in die sinagoge was daar 'n man met die gees van 'n onreine duiwel, en hy het met 'n groot stem uitgeskreeu
34. en gesê: Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasar,ner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!
35. En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.
36. Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir 'n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit!
37. En daar het 'n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing.
38. En Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom. En Simon se skoonmoeder was aangetas deur 'n hewige koors, en hulle het Hom geraadpleeg oor haar.
39. Toe gaan Hy oor haar staan en bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.
40. En toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, mense met allerhande kwale, na Hom gebring, en Hy het een vir een van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak.
41. En duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en gesê: U is die Christus, die Seun van God! En Hy het hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was.
42. En toe dit dag geword het, het Hy uitgegaan en na 'n verlate plek vertrek; en die skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom teëgehou, dat Hy nie van hulle sou weggaan nie.
43. Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.
44. En Hy het verder in die sinagoges van Galil,a gepreek.