A A A A A

Bybel in een jaar


Maart 11


Getalle 19:1-22
1. Verder het die HERE met Moses en A„ron gespreek en gesê:
2. Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou 'n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie.
3. En julle moet haar aan die priester Ele sar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag.
4. En die priester Ele sar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel.
5. Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand.
6. En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi.
7. Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees.
8. Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees.
9. En 'n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op 'n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is 'n sondoffer.
10. En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, 'n ewige insetting wees.
11. Die een wat aan 'n dooie, enige lyk van 'n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees.
12. Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig -- dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie.
13. Elkeen wat aan 'n dooie raak, aan die lyk van 'n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en die siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees ; sy onreinheid is nog aan hom.
14. Dit is die wet: As iemand in 'n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.
15. Ook al die oop goed wat nie met 'n deksel toegebind word nie, is onrein.
16. En elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard verslaan is, of aan 'n dooie of aan 'n mens se doodsbeen of aan 'n graf, sal sewe dae lank onrein wees.
17. Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand is, en daar vars water in 'n pot op gooi;
18. en 'n rein man moet hisop neem en dit in die water insteek en op die tent sprinkel en op al die goed en op die persone wat daar gewees het; ook op hom wat aan 'n doodsbeen of aan een wat verslaan is, of aan 'n dooie of aan 'n graf geraak het.
19. En die reine moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel en hom op die sewende dag ontsondig. Dan moet hy sy klere was en hom in die water bad, en in die aand sal hy rein wees.
20. Maar as iemand onrein word en hom nie ontsondig nie, dan moet die siel uitgeroei word uit die vergadering, want hy het die heiligdom van die HERE verontreinig: reinigingswater is op hom nie uitgegooi nie, hy is onrein.
21. En dit moet vir hulle 'n ewige insetting wees. En die een wat die reinigingswater sprinkel, moet sy klere was; en die een wat aan die reinigingswater raak, sal tot die aand toe onrein wees.
22. Ja, alles waar die onreine aan raak, sal onrein wees; en die persoon wat aan hom raak, sal tot die aand toe onrein wees.

Getalle 20:1-29
1. En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe.
2. En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en A„ron saamgekom.
3. En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het!
4. En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe?
5. En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.
6. Daarop gaan Moses en A„ron van die vergadering af weg na die ingang van die tent van samekoms, en hulle het op hul aangesig geval; toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan hulle.
7. En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
8. Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer A„ron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink.
9. Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het.
10. En Moses en A„ron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?
11. Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.
12. Toe sê die HERE vir Moses en A„ron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.
13. Dit is die waters van M,riba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.
14. Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het.
15. Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel.
16. Toe het ons die HERE aangeroep, en Hy het ons stem gehoor: Hy het 'n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, 'n stad op die grens van jou grondgebied.
17. Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het.
18. Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek.
19. Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal met die grootpad trek, en as ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te voet deurtrek -- verder niks nie.
20. Maar hy antwoord: Jy sal nie deurtrek nie. En Edom het uitgetrek hom tegemoet met baie manskappe en met 'n sterk hand.
21. So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek. Daarop het Israel van hom af weggedraai.
22. En die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor gekom.
23. En die HERE het met Moses en A„ron by die berg Hor, op die grens van die land Edom, gespreek en gesê:
24. A„ron sal by sy volksgenote versamel word, want hy mag nie kom in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my bevel wederstrewig was by die waters van M,riba.
25. Neem A„ron en sy seun Ele sar, en laat hulle op die berg Hor opklim;
26. en trek A„ron se klere uit en trek dit sy seun Ele sar aan; en A„ron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe.
27. Toe het Moses gedoen soos die HERE beveel het: hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering.
28. En Moses het A„ron se klere uitgetrek en dit sy seun Ele sar aangetrek. En A„ron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Ele sar het van die berg afgeklim.
29. En toe die hele vergadering sien dat A„ron gesterf het, het die hele huis van Israel A„ron beween dertig dae lank.

Psalms 33:1-9
1. o Regverdiges, jubel in die HERE! 'n Loflied betaam die opregtes.
2. Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.
3. Sing tot sy eer 'n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.
4. Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou.
5. Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE.
6. Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.
7. Hy versamel die waters van die see soos 'n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers.
8. Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees;
9. want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.

Spreuke 11:22-24
22. 'n Goue ring in 'n vark se snuit, so is 'n vrou wat mooi is maar sonder beleid.
23. Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is 'n strafgerig van toorn.
24. Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.

Markus 12:1-27
1. Toe begin Hy deur gelykenisse vir hulle te sê: 'n Man het 'n wingerd geplant en 'n heining daarom gesit en 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.
2. En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur om van die landbouers uit die vrug van die wingerd te ontvang;
3. maar hulle het hom geneem en geslaan en hom met leë hande weggestuur.
4. En weer het hy 'n ander dienskneg na hulle gestuur; en hom het hulle gestenig en aan die hoof gewond, hom skandelik behandel en teruggestuur.
5. En weer het hy 'n ander een gestuur, en hom het hulle doodgemaak; ook baie ander -- sommige het hulle geslaan en ander doodgemaak.
6. Hy het toe nog een seun gehad, sy geliefde, en hom die laaste na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.
7. Maar daardie landbouers het by hulleself gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, en die erfdeel sal ons s'n wees.
8. En hulle het hom geneem en doodgemaak en buitekant die wingerd uitgewerp.
9. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee.
10. Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword?
11. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë.
12. En hulle het probeer om Hom in die hande te kry, maar was bang vir die skare, want hulle het begryp dat Hy die gelykenis met die oog op hulle uitgespreek het. Daarop het hulle Hom verlaat en weggegaan.
13. Toe stuur hulle na Hom sommige van die Fariseërs en van die Herodiane om Hom op 'n woord te betrap.
14. En hulle kom en sê vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en U aan niemand steur nie; want U sien nie die persoon van mense aan nie, maar U leer die weg van God in waarheid. Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie?
15. Maar Hy het hulle geveinsdheid geken en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Bring vir My 'n penning, dat Ek dit kan sien.
16. En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? En hulle antwoord Hom: Die keiser s'n.
17. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor Hom.
18. Toe kom daar Sadduseërs na Hom, die wat sê dat daar geen opstanding is nie, en hulle vra Hom en sê:
19. Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se broer sterwe en 'n vrou agterlaat en geen kinders nalaat nie, moet sy broer sy vrou neem en kinders vir sy broer verwek.
20. Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en gesterwe sonder om kinders na te laat.
21. En die tweede het haar geneem en gesterwe, en hy het ook geen kinders nagelaat nie; en die derde net so.
22. En al sewe het haar geneem en geen kinders nagelaat nie. Laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
23. In die opstanding dan, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? -- want al sewe het haar as vrou gehad.
24. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?
25. Want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou hulle nie en word hulle nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele wat in die hemele is.
26. En wat die dode betref, dat hulle opstaan -- het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie?
27. God is nie 'n God van dooies nie, maar 'n God van lewendes. Julle dwaal dus grootliks.