A A A A A

Bybel in een jaar


Februarie 24


Levitikus 17:1-16
1. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2. Spreek met A„ron en sy seuns en met al die kinders van Israel en sê vir hulle: Dit is die saak wat die HERE beveel het:
3. Elkeen uit die huis van Israel wat 'n bees of 'n lam of 'n bok in die laer slag of dit buitekant die laer slag,
4. en dit nie bring by die ingang van die tent van samekoms om aan die HERE 'n offer voor die tabernakel van die HERE te bring nie as bloedskuld moet dit die man aangereken word. Hy het bloed vergiet; daarom moet die man uitgeroei word onder sy volk uit;
5. sodat die kinders van Israel hulle slagoffers wat hulle gewoon was om op die oop veld te offer, aan die HERE by die ingang van die tent van samekoms na die priester kan bring en dit as dankoffers aan die HERE kan slag.
6. Dan moet die priester die bloed teen die altaar van die HERE by die ingang van die tent van samekoms uitgooi en die vet aan die brand steek as lieflike geur vir die HERE.
7. En hulle mag nie meer hulle slagoffers offer aan die veldduiwels agter wie hulle aan hoereer nie. Dit moet vir hulle 'n ewige insetting wees vir hulle geslagte.
8. En jy moet vir hulle sê: Elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat 'n brandoffer of 'n slagoffer bring,
9. en dit nie by die ingang van die tent van samekoms bring om dit vir die HERE te berei nie die man moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
10. En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.
11. Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.
12. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.
13. En elkeen uit die kinders van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat 'n stuk wild of 'n voël vang wat geëet mag word hy moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak;
14. want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word.
15. En elkeen wat aas eet of iets wat verskeur is, 'n kind van die land sowel as 'n vreemdeling, moet sy klere was en 'n bad neem, en hy bly tot die aand toe onrein. Dan sal hy rein wees.
16. Maar as hy dit nie was nie en sy liggaam nie bad nie, moet hy sy ongeregtigheid dra.

Levitikus 18:1-30
1. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Ek is die HERE julle God.
3. Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kana„n waarheen Ek julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie.
4. My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die HERE julle God.
5. Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die HERE.
6. Niemand van julle mag naby sy naaste bloedverwant kom om die skaamte te ontbloot nie. Ek is die HERE.
7. Jy mag die skaamte van jou vader en die skaamte van jou moeder nie ontbloot nie: sy is jou moeder jy mag haar skaamte nie ontbloot nie.
8. Jy mag die skaamte van die vrou van jou vader nie ontbloot nie; dit is die skaamte van jou vader.
9. Die skaamte van jou suster, die dogter van jou vader of die dogter van jou moeder, in die huis of buitekant gebore haar skaamte mag jy nie ontbloot nie.
10. Die skaamte van jou seun se dogter of van jou dogter se dogter hulle skaamte mag jy nie ontbloot nie; want hulle is jou eie skaamte.
11. Die skaamte van die dogter van jou vader se vrou, wat deur jou vader verwek is sy is jou suster, haar skaamte mag jy nie ontbloot nie.
12. Jy mag die skaamte van jou vader se suster nie ontbloot nie; sy is jou vader se bloedverwant.
13. Jy mag die skaamte van jou moeder se suster nie ontbloot nie, want sy is jou moeder se bloedverwant.
14. Jy mag die skaamte van jou vader se broer nie ontbloot nie: jy mag nie naby sy vrou kom nie; sy is jou tante.
15. Jy mag die skaamte van jou skoondogter nie ontbloot nie; sy is jou seun se vrou: jy mag haar skaamte nie ontbloot nie.
16. Jy mag die skaamte van jou broer se vrou nie ontbloot nie; dit is die skaamte van jou broer.
17. Jy mag die skaamte van 'n vrou en haar dogter nie ontbloot nie; haar seun se dogter en haar dogter se dogter mag jy nie neem om haar skaamte te ontbloot nie. Hulle is bloedverwante. Bloedskande is dit.
18. Jy mag ook geen vrou by haar suster as mededingster byneem om haar skaamte gelyk met die ander een, terwyl die nog lewe, te ontbloot nie.
19. Ook mag jy nie naby 'n vrou kom terwyl sy onrein is deur haar onreinheid, om haar skaamte te ontbloot nie.
20. En jy mag geen vleeslike gemeenskap met jou naaste se vrou hê om jou met haar te verontreinig nie.
21. En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die HERE.
22. Met 'n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos 'n mens met 'n vrou het nie. Dit is 'n gruwel.
23. En jy mag met g,,n dier vleeslike gemeenskap hê om jou daardeur te verontreinig nie. 'n Vrou mag ook nie voor 'n dier gaan staan om daarmee te doen te hê nie. Dit is 'n gruwelike vermenging.
24. Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf.
25. So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug.
26. Maar julle moet my insettinge en my verordeninge onderhou en niks van al hierdie gruwels doen nie die kind van die land of die vreemdeling wat onder julle vertoef.
27. Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie gruwels gedoen, en die land het onrein geword.
28. Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was.
29. Want almal wat enigeen van hierdie gruwels doen die siele wat dit doen, moet uitgeroei word onder hulle volk uit.
30. Daarom moet julle my ordening onderhou om niks te doen van die gruwelike insettinge wat voor julle gedoen is nie, dat julle jul nie daardeur verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.

Psalms 27:1-3
1. 'n Psalm van Dawid. Die HERE is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?
2. As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet -- my teëstanders en my vyande, ja, myne -- struikel hulle self en val.
3. Al word 'n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan 'n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.

Spreuke 10:9-9
9. Hy wat in opregtheid wandel, wandel veilig, maar hy wat sy weë krom maak, word bekend.

Markus 4:21-41
21. En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie?
22. Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.
23. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor.
24. En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor.
25. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
26. En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi;
27. en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot -- hoe, weet hy self nie.
28. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar.
29. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.
30. En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel?
31. Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is;
32. en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.
33. En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan;
34. en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.
35. En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant.
36. En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom.
37. En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word.
38. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?
39. En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom.
40. Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?
41. En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!