A A A A A

Bybel in een jaar


November 6


Esegiël 3:1-27
1. Daarna het Hy vir my gesê: Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel.
2. Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my die rol laat eet
3. en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.
4. En Hy het vir my gesê: Mensekind, kom, gaan na die huis van Israel, en spreek hulle aan met my woorde;
5. want jy is nie gestuur na 'n volk wat duister van spraak en swaar van tong is nie, maar na die huis van Israel;
6. nie na baie volke wat duister van spraak en swaar van tong is nie, wie se woorde jy nie kan verstaan nie; as Ek jou tog na hulle gestuur het, het hulle na jou geluister!
7. Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het 'n harde voorhoof en 'n ongevoelige hart.
8. Kyk, Ek maak jou aangesig hard net soos hulle aangesig en jou voorhoof hard net soos hulle voorhoof.
9. Jou voorhoof maak Ek hard soos 'n diamant, harder as 'n rots; jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle 'n wederstrewige huis is.
10. Verder het Hy vir my gesê: Mensekind, neem al my woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op, en hoor hulle met jou ore;
11. en kom, gaan na die ballinge, na die kinders van jou volk, en spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE -- of hulle al luister of nie.
12. Toe het die Gees my opgeneem, en ek het agter my die geluid van 'n groot gedreun gehoor wat sê: Geloofd sy die heerlikheid van die HERE uit sy woonplek!
13. En ek het gehoor die geluid van die wesens se vlerke wat die een aan die ander verbind was, en die geluid van die wiele gelyktydig daarmee en die geluid van 'n groot gedreun.
14. Toe het die Gees my opgehef en my weggeneem, en ek het gegaan, verbitterd in die grimmigheid van my gees; maar die hand van die HERE was sterk op my.
15. En ek het by die ballinge gekom in Tel-Abib, wat by die Kebarrivier gewoon het, en by die plek van hulle woning; en ek het daar sewe dae lank verstom in hulle midde gesit.
16. En aan die einde van sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
17. Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy 'n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.
18. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe -- en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
19. Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.
20. En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
21. Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.
22. En die hand van die HERE was daar op my, en Hy het vir my gesê: Staan op, gaan uit na die laagte, en Ek sal daar met jou spreek.
23. Ek staan toe op en gaan na die laagte uit; en kyk, die heerlikheid van die HERE het daar gestaan soos die heerlikheid wat ek by die Kebarrivier gesien het. En ek het op my aangesig geval.
24. Toe kom die Gees in my en laat my op my voete staan; en Hy het met my gespreek en vir my gesê: Gaan in, sluit jou toe in jou huis.
25. En jy, mensekind, kyk, hulle sit vir jou toue aan en bind jou daarmee, sodat jy nie onder hulle kan uitgaan nie.
26. En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klewe, sodat jy stom sal word en vir hulle geen bestraffer sal wees nie; want hulle is 'n wederstrewige huis.
27. Maar as Ek met jou spreek, sal Ek jou mond open, en jy moet aan hulle sê: So spreek die Here HERE. Wie hoor, laat hom hoor; en wie dit nalaat, laat hom dit nalaat; want hulle is 'n wederstrewige huis.

Esegiël 4:1-17
1. En jy, mensekind, neem vir jou 'n baksteen en sit dit voor jou neer, en teken daarop 'n stad, naamlik Jerusalem;
2. maak dan 'n beleëring daarteen en bou forte daarteen en gooi 'n wal daarteen op en stel laers daarteen op en lê stormramme daarteen aan rondom.
3. Verder, neem jy vir jou 'n ysterpan en sit dit as 'n ystermuur tussen jou en die stad; en rig jou aangesig daarop, en dit sal beleër wees, en jy moet dit beleër. 'n Teken is dit vir die huis van Israel.
4. Gaan lê ook op jou linkerkant, en sit daarop die ongeregtigheid van die huis van Israel; volgens die getal dae dat jy daarop lê, moet jy hulle ongeregtigheid dra.
5. En k lê jou die jare van hulle ongeregtigheid op volgens die getal dae, drie honderd en negentig dae, dat jy die ongeregtigheid van die huis van Israel moet dra.
6. En as jy met hierdie dae klaar is, moet jy, vir die tweede keer, op jou regterkant gaan lê en die ongeregtigheid van die huis van Juda dra, veertig dae lank: vir elke jaar lê Ek jou een dag op.
7. En op die beleëring van Jerusalem moet jy jou aangesig rig terwyl jou arm ontbloot is; en jy moet daarteen profeteer.
8. En kyk, Ek sit vir jou toue aan, sodat jy jou nie kan omdraai van die een kant na die ander nie, totdat jy klaar is met die dae van jou beleëring.
9. En neem jy vir jou koring en gars en boontjies en lensies en broodmanna en spelt, en gooi dit in een skottel, en maak vir jou daarvan brood; volgens die getal dae dat jy op jou sy lê, drie honderd en negentig dae, moet jy daarvan eet.
10. En jou voedsel wat jy moet eet, sal in gewig wees twintig sikkels elke dag; van tyd tot tyd moet jy dit eet.
11. Jy moet ook water by die maat drink, die sesde deel van 'n hin; van tyd tot tyd moet jy dit drink.
12. En as garskoeke moet jy dit eet en dit op die mis van mensedrek bak voor hulle oë.
13. Toe sê die HERE: So sal die kinders van Israel hulle brood onrein eet onder die nasies waarheen Ek hulle sal verdrywe.
14. En ek sê: Ag, Here HERE! Kyk, my siel is nooit verontreinig nie, en ek het van my jeug af tot nou toe geen aas of iets wat verskeur is, geëet nie, en daar het geen bedorwe vleis in my mond gekom nie.
15. Toe sê Hy vir my: Kyk, Ek het vir jou beesmis gegee in plaas van mensedrek; daarop moet jy jou brood klaarmaak.
16. Ook het Hy vir my gesê: Mensekind, kyk, Ek verbreek die staf van die brood in Jerusalem, en hulle sal brood by die gewig en met kommer eet en water by die maat en in stomme smart drink;
17. sodat hulle gebrek aan brood en water het, en die een met die ander verstom staan en in hulle ongeregtigheid wegkwyn.

Psalms 119:161-168
161. Sin, Sjin. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.
162. Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind.
163. Leuens haat ek en het daar 'n afsku van; u wet het ek lief.
164. Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge.
165. Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.
166. o HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie.
167. My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief.
168. Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.

Spreuke 28:13-13
13. Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.

Hebreërs 2:1-18
1. Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie.
2. Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het,
3. hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het,
4. terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bed,linge van die Heilige Gees volgens sy wil?
5. Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie;
6. maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek?
7. U het hom 'n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel.
8. Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;
9. maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir 'n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.
10. Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.
11. Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie,
12. wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys;
13. en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het.
14. Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het -- dit is die duiwel --
15. en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.
16. Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom.
17. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.
18. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy die help wat versoek word.