A A A A A

Bybel in een jaar


Oktober 15


Jeremia 15:1-21
1. Maar die HERE het vir my gesê: Al staan Moses en Samuel voor my aangesig, my siel wil niks van hierdie volk weet nie; dryf hulle van my aangesig af weg, en laat hulle heengaan.
2. En as hulle jou vra: Waar moet ons heengaan? sê dan vir hulle: So spreek die HERE: Wie vir die pes bestem is, na die pes; en wie vir die swaard, na die swaard; en wie vir die hongersnood, na die hongersnood; en wie vir die gevangenskap, na die gevangenskap.
3. En Ek sal oor hulle vier soorte besoekinge doen, spreek die HERE: die swaard om dood te maak en die honde om weg te sleep en die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde om op te eet en te vernietig.
4. En Ek sal hulle 'n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hisk¡a, die koning van Juda, oor wat hy in Jerusalem gedoen het.
5. Want wie sal jou bejammer, o Jerusalem? Of wie sal met jou medelyde hê? Of wie sal uitdraai om na jou welstand te vra?
6. Jy het My verwerp, spreek die HERE, jy het l agteruitgegaan; daarom strek Ek my hand teen jou uit en verwoes jou; Ek is moeg om berou te hê.
7. En Ek wan hulle uit met 'n gaffel by die ingange van die land. Ek maak my volk kinderloos, maak hulle tot niet; hulle kom van hulle weë nie terug nie.
8. Hulle weduwees het vir My meer geword as die sand van die see; Ek bring vir hulle oor die moeder van die jong manskappe 'n verwoester op die middag; Ek laat skielik op haar val angs en verskrikkinge.
9. Sy wat sewe gebaar het, het weggekwyn; sy het magteloos neergesink; haar son het ondergegaan terwyl dit nog dag was; sy staan beskaamd en het rooi van skaamte geword. En hulle oorblyfsel gee Ek aan die swaard oor, voor hulle vyande, spreek die HERE.
10. Wee my, my moeder, dat u my gebaar het -- 'n man van twis en 'n man van stryd vir die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie; almal vloek my.
11. Die HERE het gesê: Waarlik, Ek bevry jou ten goede; waarlik, Ek maak dat die vyand jou ootmoedig smeek in tyd van onheil en in tyd van benoudheid.
12. Kan 'n mens yster breek, yster uit die noorde, en koper?
13. Jou rykdom en jou skatte sal Ek as buit gee, sonder betaling; en dit weens al jou sondes en in jou hele grondgebied.
14. En Ek sal jou jou vyande laat dien in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur is aangesteek in my toorn, oor julle sal dit brand.
15. o HERE, U weet dit; dink aan my en besoek my, en wreek my op my vervolgers. Neem my in u lankmoedigheid nie weg nie. Weet dat ek smaad dra om U ontwil.
16. Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare!
17. Ek het nie gesit in 'n vergadering van spotters of was nie uitgelate nie; vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met grimmigheid vervul.
18. Waarom is my smart ewigdurend en my wond ongeneeslik? Dit weier om gesond te word. Sou U vir my waarlik wees soos 'n bedrieglike stroom, waters wat nie standhoudend is nie?
19. Daarom, so sê die HERE: As jy terugkeer, sal Ek jou laat terugkeer, sal jy voor my aangesig staan; en as jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees. Laat hulle na jou terugkeer, maar jy moet nie na hulle terugkeer nie.
20. En Ek sal jou 'n onneembare kopermuur vir hierdie volk maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die HERE.
21. En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose mense en jou verlos uit die vuis van die tiranne.

Jeremia 16:1-21
1. En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2. Jy mag vir jou geen vrou neem nie, en jy mag geen seuns of dogters hê in hierdie plek nie.
3. Want so sê die HERE van die seuns en die dogters wat in hierdie plek gebore word, en van hulle moeders wat hulle baar, en van hulle vaders wat hulle verwek in hierdie land:
4. Aan dodelike siektes sal hulle sterwe, hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.
5. Want so sê die HERE: Kom nie in die klaaghuis en gaan nie om te rouklaag nie, en betuig geen deelneming met hulle nie; want Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE, die goedertierenheid en die barmhartigheid.
6. Groot sowel as klein sal sterwe in hierdie land; hulle sal nie begrawe word nie, en niemand sal hulle beklaag en homself stukkend kerwe of vir hom 'n kaal plek skeer om hulle ontwil nie.
7. Ook sal niemand vir hulle treurbrood breek om iemand te troos oor 'n dooie, of aan hulle die troosbeker gee om te drink oor iemand se vader of oor iemand se moeder nie.
8. Kom ook nie in 'n huis van maaltye om met hulle saam aan te sit nie, om te eet en te drink nie.
9. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek laat uit hierdie plek ophou voor julle oë en in julle dae die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid.
10. En as jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak en hulle jou vra: Waarom het die HERE al hierdie groot onheile oor ons gespreek? En wat is ons ongeregtigheid en ons sonde wat ons teen die HERE onse God begaan het? --
11. dan moet jy vir hulle sê: Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die HERE, en agter ander gode aan geloop en hulle gedien en hul daarvoor neergebuig het, maar My verlaat het en my wet nie gehou het nie,
12. en julle nog erger gehandel het as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie.
13. Daarom sal Ek julle wegslinger uit hierdie land na 'n land wat julle nie geken het, julle en julle vaders nie; en daar sal julle ander gode dien dag en nag, omdat Ek julle geen genade sal bewys nie.
14. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat daar nie meer gesê sal word: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie;
15. maar: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel laat optrek het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het. Ja, Ek sal hulle terugbring in hulle land wat Ek aan hulle vaders gegee het.
16. Kyk, Ek stuur baie vissers, spreek die HERE, wat hulle sal vang, en daarna sal Ek baie jagters stuur wat hulle sal opjaag, van elke berg en van elke heuwel en uit die klipskeure.
17. Want my oë is op al hulle weë, dit is nie voor my aangesig bedek nie, en hulle ongeregtigheid is nie voor my oë verborge nie.
18. Daarom sal Ek eers hulle ongeregtigheid en hulle sonde dubbel vergelde, omdat hulle my land ontheilig het met die lyke van hulle verfoeisels en my erfenis gevul het met hulle gruwels.
19. o HERE, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërwe, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie.
20. Sal 'n mens vir hom gode maak wat tog geen gode is nie?
21. Daarom, kyk, Ek laat hulle hierdie keer voel, voel my hand en my mag; en hulle sal weet dat my Naam HERE is.

Psalms 118:21-24
21. Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het.
22. Die steen wat die bouers verwerp het, het 'n hoeksteen geword.
23. Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë.
24. Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

Spreuke 27:10-10
10. Moenie jou vriend en die vriend van jou vader verlaat nie, en kom nie in die huis van jou broer op die dag van jou teëspoed nie. 'n Buurman wat naby is, is beter as 'n broer wat ver is.

1 Tessalonisense 2:1-20
1. Julle weet tog self, broeders, dat ons ingang by julle nie tevergeefs was nie;
2. maar alhoewel ons vantevore, soos julle weet, in Fil¡ppi gely het en mishandel is, het ons in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig onder veel stryd.
3. Want ons vermaning was nie uit dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie;
4. maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.
5. Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie.
6. Ook het ons nie eer van mense, •f van julle •f van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree.
7. Maar ons was vriendelik onder julle soos 'n pleegmoeder haar kinders koester.
8. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.
9. Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig.
10. Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo,
11. hoe ons, soos julle weet, net soos 'n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het
12. en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.
13. Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.
14. Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Jud,a, omdat julle ook dieselfde dinge gely het van julle eie stamgenote net soos hulle van die Jode,
15. wat ook die Here Jesus en hulle eie profete gedood en ons vervolg het en God nie behaag nie en teen alle mense gekant is,
16. deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe.
17. Maar nadat ons, broeders, 'n kort tydjie van julle geskeie was -- in persoon, nie met die hart nie -- het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig te sien.
18. Daarom wou ons na julle toe kom, ek Paulus, meer as een maal; maar die Satan het ons verhinder.
19. Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?
20. Want julle is ons eer en blydskap.