A A A A A

Bybel in een jaar

Januarie 22

Genese 43:1-34
1. En die hongersnood was swaar in die land.
2. En nadat die koring wat hulle uit Egipte gebring het, opgeëet was, sê hulle vader vir hulle: Gaan koop vir ons weer 'n bietjie voedsel.
3. Toe het Juda hom geantwoord: Die man het ons uitdruklik gewaarsku en gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.
4. As u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel koop;
5. maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan ons gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.
6. Toe sê Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel deur die man te vertel dat julle nog 'n broer het?
7. En hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons en ons familie gevra met die woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog 'n broer? Toe het ons hom dit te kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons dan ooit weet dat hy sou sê: Bring julle broer af?
8. Daarop sê Juda aan sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie -- ons en ook u en ons kinders nie.
9. Ek sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan.
10. Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal terug.
11. Toe het Israel, hulle vader, vir hulle gesê: As dit so is, doen dan dit: neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man 'n geskenk af -- bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels;
12. en neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit 'n vergissing.
13. En neem julle broer -- maak julle klaar en gaan terug na die man.
14. En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek -- as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.
15. Daarop neem die manne die geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor Josef gaan staan.
16. Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet vanmiddag by my eet.
17. En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die huis van Josef gebring.
18. En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en gesê: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels.
19. Daarom het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en met hom gespreek by die ingang van die huis
20. en gesê: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te koop,
21. maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo in sy sak -- ons geld volgens sy gewig -- en ons het dit saam met ons teruggebring.
22. Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie.
23. Toe antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het julle 'n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my gekom. Daarop het hy S¡meon na hulle uitgebring.
24. En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water aan hulle gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook hulle esels voer gegee.
25. En hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.
26. Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe.
27. En hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog?
28. En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En hulle het hul eerbiedig neergebuig.
29. Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en sê: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop sê hy: Mag God jou genadig wees, my seun!
30. En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween.
31. Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en gesê: Bring die ete op!
32. Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars 'n gruwel is.
33. En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan.
34. Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan; maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.

Genese 44:1-34
1. Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak;
2. en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het.
3. Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels.
4. Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?
5. Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.
6. En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.
7. Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen.
8. Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kana„n aan u teruggebring hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel?
9. Di, een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees.
10. Toe sê hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Di, een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar julle sal vry wees.
11. Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak.
12. En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind.
13. Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug.
14. En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond.
15. Daarop sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat 'n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie?
16. En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.
17. Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, die sal my slaaf wees. Maar trek julle in vrede op na julle vader.
18. Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog 'n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.
19. My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle 'n vader of broer?
20. En ons het my heer geantwoord: Ons het 'n ou vader; en daar is 'n jong seun, 'n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief.
21. Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig.
22. En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat.
23. Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie.
24. En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het,
25. het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons 'n bietjie voedsel.
26. Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie.
27. En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Julle weet dat my vrou vir my twee gebaar het --
28. die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.
29. As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom 'n ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal.
30. As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie -- terwyl sy siel innig aan hom verkleef is --
31. sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal.
32. Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan.
33. Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek.
34. Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!

Psalms 11:1-7
1. Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. By die HERE skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos 'n voël!
2. Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart.
3. As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?
4. Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.
5. Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.
6. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en 'n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.
7. Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.

Spreuke 4:10-13
10. Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word.
11. In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree;
12. as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.
13. Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe.

Matt 14:22-36
22. En Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur.
23. En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.
24. En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle.
25. Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see.
26. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is 'n spook! En hulle het geskreeu van vrees.
27. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.
28. En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.
29. En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan.
30. Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!
31. En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?
32. Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê.
33. Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God!
34. En hulle het oorgevaar en in die land Genn,saret gekom.
35. En die manne van daardie plek het Hom herken en in daardie hele omtrek uitgestuur en almal wat ongesteld was, na Hom gebring;
36. en hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword.