A A A A A

Bybel in een jaar


Januarie 12


Genese 23:1-20
1. En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara.
2. En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kana„n; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween.
3. Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê:
4. Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.
5. Toe antwoord die seuns van Het vir Abraham en sê aan hom:
6. Luister na ons, my heer! U is 'n vors van God onder ons. Begraaf u dode in die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe nie.
7. Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns van Het;
8. en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my 'n goeie woord by Efron, die seun van Sohar,
9. dat hy aan my gee die spelonk van Magp,la wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek 'n graf onder julle mag besit.
10. En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet, vir Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van sy stad ingegaan het:
11. Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat daarin is, dit gee ek aan u; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit aan u; begraaf u dode.
12. Daarop het Abraham hom voor die volk van die land neergebuig
13. en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: Ja, as dit u is, ag, luister na my! Ek gee die geld vir die stuk grond; neem dit van my aan, dat ek my dode daar kan begrawe.
14. En Efron het Abraham geantwoord en aan hom gesê:
15. My heer, luister na my. 'n Stuk land van vier honderd sikkels silwer -- wat is dit tussen my en u? Begraaf maar u dode.
16. Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het -- vier honderd sikkels silwer gangbaar by die koopman.
17. So het dan die stuk grond van Efron wat in Magp,la teenoor Mamre lê, die stuk grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die ganse gebied daarvan rondom staan,
18. die eiendom van Abraham geword voor die oë van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingegaan het.
19. Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magp,la, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kana„n.
20. So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.

Genese 24:1-67
1. En Abraham was oud en ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles geseën.
2. Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup,
3. dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kana„niete onder wie ek woon nie;
4. maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak 'n vrou te neem.
5. Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek het?
6. En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen bring nie.
7. Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee -- Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar 'n vrou gaan haal.
8. Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.
9. Toe lê die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir hom gesweer, met die oog op hierdie saak.
10. En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na Mesopot mië, na die stad van Nahor, getrek.
11. En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by 'n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep,
12. en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.
13. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep.
14. Laat dit nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink -- dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.
15. Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir B,tuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer.
16. En die dogter was baie mooi van aansien, 'n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom.
17. Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink.
18. En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink.
19. Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.
20. Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop om te skep en vir al sy kamele geskep.
21. En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die HERE sy weg voorspoedig gemaak het of nie.
22. En toe die kamele genoeg gedrink het, neem die man 'n goue ring, 'n halfsikkel in gewig, en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in gewig.
23. En hy sê: Wie se dogter is jy? Vertel my tog. Is daar plek vir ons in die huis van jou vader om te vernag?
24. Toe antwoord sy hom: Ek is die dogter van B,tuel, die seun van Milka wat sy vir Nahor gebaar het.
25. Verder sê sy vir hom: Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek om te vernag.
26. Toe buig die man hom neer en aanbid die HERE
27. met die woorde: Geloofd sy die HERE, die God van Abraham, my heer, wat sy goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die HERE het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.
28. Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar gebeur het.
29. En Rebekka het 'n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop na die man buite by die fontein.
30. Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek -- het hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein,
31. en gesê: Kom in, geseënde van die HERE! Waarom staan jy buitekant terwyl ek die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele?
32. En die man het in die huis ingekom -- die kamele is afgesaal en vir die kamele is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was.
33. Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het gesê: Ek sal nie eet voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar.
34. Toe sê hy: Ek is die dienaar van Abraham.
35. En die HERE het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.
36. En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar nadat sy al oud was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit.
37. En my heer het my laat sweer en gesê: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie;
38. maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun 'n vrou gaan haal.
39. Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie.
40. Maar hy het my geantwoord: Die HERE voor wie se aangesig ek gewandel het, sal sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my seun 'n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal.
41. Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my.
42. Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak --
43. ek staan hier by die fontein laat dit nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink --
44. en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep -- sy is die vrou wat die HERE vir die seun van my heer bestem het.
45. Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink!
46. En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink.
47. Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van B,tuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande,
48. en ek het my in aanbidding neergebuig voor die HERE en die HERE geloof, die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal.
49. As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so nie, sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan.
50. Toe antwoord Laban en B,tuel en sê: Van die HERE kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie.
51. Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy 'n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die HERE gespreek het.
52. Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor die HERE neergebuig na die aarde toe.
53. Daarna het die dienaar silwer-- en goue goed en klere uitgehaal en dit aan Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.
54. En hulle het geëet en gedrink, hy en die manne wat by hom was, en die nag oorgebly. Toe hulle die môre vroeg opgestaan het, sê hy: Laat my trek na my heer!
55. Maar haar broer en haar moeder sê: Laat die dogter 'n dag of tien by ons bly; daarna kan jy heengaan.
56. Maar hy antwoord hulle: Moet my nie ophou nie aangesien die HERE my weg voorspoedig gemaak het; laat my trek, dat ek na my heer kan gaan.
57. Toe sê hulle: Laat ons die dogter roep en haar self vra.
58. En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan? En sy antwoord: Ja.
59. Daarop het hulle Rebekka, hulle suster, en haar oppasser laat trek saam met die dienaar van Abraham en sy manne.
60. En hulle het Rebekka geseënen aan haar gesê: Ons suster, mag jy duisende van tien duisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!
61. Toe het Rebekka en haar diensmeisies hulle klaargemaak en op die kamele weggery en die man gevolg. So het die dienaar dan Rebekka saamgeneem en weggetrek.
62. En Isak het uit die rigting van die put Lagai-Ro‹gekom; want hy het gaan woon in die Suidland.
63. En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens kamele aankom.
64. Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel afgegly
65. en aan haar dienaar gesê: Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld? En die dienaar antwoord: Dit is my heer. Toe neem sy die sluier en bedek haar.
66. Daarop het die dienaar aan Isak alles vertel wat hy gedoen het.
67. En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos n die dood van sy moeder.

Psalms 7:1-5
1. Sjiggajon van Dawid wat hy tot eer van die HERE gesing het weens die woorde van Kus, die Benjaminiet.
2. HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my;
3. sodat hy nie soos 'n leeu my verskeur en wegruk sonder dat iemand red nie.
4. HERE, my God, as ek dit gedoen het, as daar onreg in my hande is,
5. as ek hom kwaad aangedoen het wat in vrede met my geleef het ja, ek het hom gered wat my sonder oorsaak vyandig was,

Spreuke 3:7-8
7. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;
8. dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.

Matt 9:1-17
1. En nadat Hy in die skuit geklim het, het Hy oorgevaar en in sy eie stad gekom.
2. En hulle het 'n verlamde man wat op 'n bed lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy aan die verlamde: Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.
3. En sommige van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: Hierdie man praat godslasterlik.
4. En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?
5. Want wat is makliker, om te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en loop?
6. Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe -- toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.
7. En hy het opgestaan en huis toe gegaan.
8. En toe die skare dit sien, was hulle verwonderd en het God verheerlik wat so 'n mag aan die mense gegee het.
9. En toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy 'n man met die naam van Matth,s by die tolhuis sit; en Hy sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.
10. En terwyl Hy in die huis aan tafel was, het daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel gegaan.
11. En toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir sy dissipels: Waarom eet julle Meester saam met tollenaars en sondaars?
12. Maar toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.
13. Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
14. Daarna kom die dissipels van Johannes na Hom en sê: Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie?
15. En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.
16. En niemand sit 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom 'n erger skeur.
17. 'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.