A A A A A

1 Kronieke 19:1-19
1. Daarna het Nahas, die koning van die kinders van Ammon, gesterwe, en sy seun het in sy plek koning geword.
2. Toe sê Dawid: Ek wil guns bewys aan Hanun, die seun van Nahas, want sy vader het aan my guns bewys. Daarom het Dawid boodskappers gestuur om hom te troos oor sy vader. Toe dan die dienaars van Dawid in die land van die kinders van Ammon by Hanun aankom om hom te troos,
3. het die vorste van die kinders van Ammon vir Hanun gesê: Eer Dawid u vader in u oë, omdat hy vir u troosters gestuur het? Het sy dienaars nie na u gekom om die land te deursoek en dit om te keer en te verken nie?
4. Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan.
5. En toe hulle heengegaan het en van Dawid aangaande die manne berig gebring is, stuur hy bodes om hulle te ontmoet, want die manne was baie skaam; en die koning het gesê: Bly in Jérigo totdat julle baard weer gegroei het; kom dan terug.
6. Toe die kinders van Ammon sien dat hulle hul by Dawid gehaat gemaak het, het Hanun en die kinders van Ammon duisend talente silwer gestuur om vir hulle strydwaens en perderuiters uit Mesopotámië en uit Aram-Máäga en uit Soba te huur.
7. En hulle het vir hulle twee en dertig duisend waens gehuur, en die koning van Máäga met sy manskappe; en hulle het gekom en voor Medéba laer opgeslaan; ook die kinders van Ammon het saamgekom uit hulle stede om oorlog te voer.
8. En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur.
9. En die kinders van Ammon het uitgetrek en hulle in slagorde opgestel by die ingang van die stad, terwyl die konings wat gekom het, afsonderlik in die veld was.
10. Toe Joab sien dat 'n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy uit al die uitgesoektes in Israel uitgekies en hulle teenoor die Arameërs opgestel.
11. Maar die orige manskappe het hy onder bevel van sy broer Abísai gegee, en hulle het hul teenoor die kinders van Ammon opgestel.
12. En hy het gesê: As die Arameërs vir my te sterk word, dan moet jy my te hulp kom, en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek jou te hulp kom.
13. Wees sterk en laat ons saam moedig wees vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die HERE dan doen wat goed is in sy oë!
14. Daarop het Joab en die manskappe wat by hom was, nader gekom vir die geveg voor die Arameërs, en hulle het vir hom gevlug.
15. Toe die kinders van Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir sy broer Abísai gevlug en die stad ingegaan. En Joab het in Jerusalem aangekom.
16. Toe die Arameërs dan sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle boodskappers gestuur en die Arameërs laat uittrek wat oorkant die Eufraat was, met Sofag, die leërowerste van Hadaréser, op hulle voorpunt.
17. Intussen het Dawid daarvan berig ontvang en die hele Israel versamel en deur die Jordaan getrek. Toe hy by hulle aangekom het, het hy hom teen hulle opgestel; en nadat Dawid hom teenoor die Arameërs opgestel het, het hulle teen hom geveg.
18. Maar die Arameërs het vir Israel gevlug, en Dawid het van die Arameërs sewe duisend trekperde en veertig duisend man voetgangers gedood; ook Sofag, die leërowerste, het hy gedood.
19. En toe die dienaars van Hadaréser sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle met Dawid vrede gesluit en hom gedien; en die Arameërs wou die kinders van Ammon nie verder help nie.

1 Kronieke 20:1-8
1. En ná verloop van 'n jaar, teen die tyd dat die konings uittrek, het Joab die leërmag aangevoer en die land van die kinders van Ammon verwoes; hy het ook gekom en Rabba beleër, terwyl Dawid in Jerusalem gebly het. En Joab het Rabba verslaan en dit afgebreek.
2. En Dawid het die kroon van Milkom van sy hoof afgeneem en bevind dat die gewig daarvan 'n talent goud was; en daarin was 'n kosbare steen, en dit het op die hoof van Dawid gekom; en hy het 'n baie groot buit van die stad uitgebring.
3. Hy het ook die bevolking wat daarin was, uitgebring en hulle met die saag laat saag, en met ysterpenne en met byle laat werk; en so het Dawid gedoen met al die stede van die kinders van Ammon. Toe het Dawid met al die manskappe na Jerusalem teruggegaan.
4. En daarna het daar by Geser oorlog ontstaan met die Filistyne; toe het Síbbegai, die Husatiet, Síppai, uit die kinders van die Refaïte verslaan, sodat hulle onderworpe geraak het.
5. En daar was weer oorlog met die Filistyne; en Élhanan, die seun van Jaïr, het Lagmi, die broer van Goliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos 'n wewersbalk was, verslaan.
6. En daar was weer oorlog by Gat, en daar was 'n baie lang man met ses vingers aan elke hand en voet, vier en twintig; en hy was ook 'n afstammeling van die Refaïete.
7. En hy het Israel uitgedaag, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan.
8. Hulle was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.

Psalms 78:26-33
26. Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer;
27. en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë;
28. en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings.
29. Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig.
30. Hulle was nie weg van hul begeerte nie -- hulle voedsel was nog in hulle mond --
31. toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy 'n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het.
32. Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.
33. So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking.

Spreuke 19:27-29
27. Hou op, my seun, om na tug te luister, terwyl jy tog afdwaal van die woorde van kennis.
28. 'n Deugniet wat getuienis gee, spot met die reg, en die mond van die goddelose verslind onreg.
29. Vir die spotters staan strafgerigte klaar en slae vir die rug van die dwase.

Handelinge 8:26-40
26. En 'n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is 'n eensame pad.
27. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was 'n man van Ethiopië, 'n hofdienaar, 'n staatsamptenaar van Kandac,, die koningin van die Ethiopiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.
28. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.
29. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa.
30. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees?
31. En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.
32. En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was d¡t: Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos 'n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.
33. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.
34. En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?
35. En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig.
36. En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?
37. Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.
38. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.
39. En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.
40. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesar,a gekom het.