A A A A A
Bybel in een jaar
Februarie 28

Levitikus 25:1-55
1. Verder het die HERE met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:
2. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land 'n sabbat hou vir die HERE.
3. Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;
4. maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, 'n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.
5. Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet 'n jaar van rus vir die land wees.
6. En die opbrings van die sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef,
7. en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet.
8. Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou nege en veertig jaar is.
9. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, 'n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan.
10. En julle moet die vyftigste jaar heilig en 'n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle 'n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.
11. 'n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie.
12. Want dit is 'n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet.
13. In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.
14. Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie;
15. volgens die getal jare ndie jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar 'n oes is, moet hy dit aan jou verkoop;
16. volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste.
17. Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God.
18. En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.
19. En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon.
20. En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie?
21. dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.
22. En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet.
23. Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.
24. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat.
25. As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.
26. En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing,
27. moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan.
28. Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan.
29. En as iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet daar reg van lossing wees tot die end van die jaar dat dit verkoop is; 'n jaar lank moet daar reg van lossing wees.
30. Maar as dit nie gelos word voordat 'n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly vir sy geslagte; in die jubeljaar sal dit nie vry word nie.
31. Maar die huise van die dorpe wat rondom geen muur het nie, moet by die veld van die land gereken word; daar moet reg van lossing voor wees en in die jubeljaar moet dit vry word.
32. Wat die stede van die Leviete aangaan, die huise in die stede wat in hulle besit is vir die Leviete moet daar 'n ewige reg van lossing wees.
33. En as iemand van die Leviete dit sal los, moet die huis wat verkoop is, naamlik in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word; want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel.
34. En die weiveld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is 'n ewige besitting vir hulle.
35. En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos 'n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe.
36. Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe.
37. Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie.
38. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kana„n te gee, om julle God te wees.
39. En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie.
40. Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien;
41. dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan.
42. Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos 'n mens 'n slaaf verkoop nie.
43. Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees.
44. Wat jou slaaf of jou slavin aangaan wat aan jou sal behoort van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle 'n slaaf of slavin koop.
45. En ook van die kinders van die bywoners wat by julle vertoef van hulle mag julle koop en van hulle geslag wat by julle is, wat hulle in julle land verwek het; en die sal vir julle 'n besitting wees.
46. En julle mag die aan julle kinders njulle nalaat as 'n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander oor hom mag jy nie met hardheid heers nie.
47. En as 'n vreemdeling of bywoner by jou vermoënd word, en jou broer by hom verarm en hy homself aan 'n vreemdeling of bywoner by jou verkoop, of aan 'n familielid uit die geslag van 'n vreemdeling,
48. dan moet daar vir hom, nadat hy hom verkoop het, reg van lossing wees; een van sy broers kan hom los,
49. of sy oom of sy oom se seun kan hom los, of een van sy naaste bloedverwante uit sy geslag kan hom los, of as hy dit kan bekostig, kan hy homself los.
50. En hy moet met sy koper reken van die jaar af dat hy hom aan hom verkoop het, tot die jubeljaar toe. En die prys waarvoor hy hom verkoop het, moet wees volgens die aantal jare; soos 'n dagloner sal hy dan die tyd by hom gewees het.
51. As daar nog baie jare is, moet hy volgens hulle sy losprys uit die geld waarvoor hy gekoop is, teruggee;
52. en as daar maar min jare tot die jubeljaar toe oor is, moet hy daarmee rekening hou; volgens die jare moet hy sy losprys teruggee.
53. Soos een wat van jaar tot jaar loonarbeider is, moet hy by hom wees; hy mag nie met hardheid oor hom voor jou oë heers nie.
54. En as hy nie op die wyse gelos word nie, moet hy in die jubeljaar vrygelaat word, hy en sy kinders saam met hom.
55. Want die kinders van Israel is my knegte; my knegte is hulle wat Ek uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.

Psalms 28:6-9
6. Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor.
7. Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang.
8. Die HERE is 'n sterkte vir hulle, en Hy is 'n vesting van verlossing vir sy gesalfde.
9. Verlos u volk en seën u erfdeel, en wees vir hulle 'n herder en dra hulle tot in ewigheid.

Spreuke 10:19-21
19. By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.
20. Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer; die hart van die goddelose is min werd.
21. Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand.

Markus 6:30-56
30. En die apostels het by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het.
31. En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.
32. En hulle het met die skuit vertrek na 'n verlate plek in die eensaamheid.
33. En die skare het hulle sien weggaan, en baie het Hom herken en te voet van al die stede af daar saamgestroom en voor hulle uit gegaan en by Hom vergader.
34. En toe Jesus uitklim, sien Hy 'n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer.
35. En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat.
36. Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie.
37. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir twee honderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet?
38. En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse.
39. En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit.
40. En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig.
41. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel.
42. En almal het geëet en versadig geword;
43. en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse.
44. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyf duisend manne.
45. En dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Bets ida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur.
46. En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid.
47. En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land.
48. En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan.
49. En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu;
50. want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie.
51. En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd.
52. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was.
53. En nadat hulle oorgevaar het, het hulle by die land Genn,saret aangekom en daar aan wal gaan lê.
54. En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken.
55. en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is.
56. En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.