A A A A A

1 Kronieke 13:1-14
1. En Dawid het raad gehou met die owerstes oor duisend en oor honderd, met elke bevelhebber;
2. en Dawid het aan die hele vergadering van Israel gesê: As julle dit goedvind en dit van die HERE onse God is, laat ons ons versprei en na ons broers stuur wat nog oor is in al die landstreke van Israel, en saam met hulle na die priesters en die Leviete in die stede waar hulle weiveld het, dat hulle by ons bymekaar moet kom.
3. En laat ons die ark van onse God na ons toe oorbring, want in die dae van Saul het ons daar nie na gevra nie.
4. Toe sê die hele vergadering dat hulle so moes doen, want die saak was reg in die oë van die hele volk.
5. En Dawid het die hele Israel versamel van die Sihor in Egipte af tot by die ingang na Hamat, om die ark van God uit Kirjat-Jeárim te gaan haal.
6. Daarna het Dawid met die hele Israel opgetrek na Báäla, na Kirjat-Jeárim wat aan Juda behoort, om daarvandaan op te bring die ark van God die HERE wat op die gérubs troon, waaroor die Naam uitgeroep is.
7. En hulle het die ark van God op 'n nuwe wa vervoer uit die huis van Abinádab, en Ussa en Agjo het die wa gedrywe.
8. En Dawid en die hele Israel het voor die aangesig van God met alle mag gespeel, sowel met liedere as met siters en harpe en tamboeryne en simbale en trompette.
9. Toe hulle by die dorsvloer van Kidon kom, het Ussa sy hand uitgesteek om die ark vas te hou, want die osse het gestruikel.
10. Daarop het die toorn van die HERE ontvlam teen Ussa, en Hy het hom getref, omdat hy sy hand na die ark uitgesteek het, sodat hy daar voor die aangesig van God gesterf het.
11. En Dawid het ontroerd geword, omdat die HERE 'n skeur aan Ussa geskeur het; daarom het hy daardie plek genoem Peres-Ussa, tot vandag toe.
12. En Dawid het daardie dag vir God bevrees geword en gesê: Hoe kan ek die ark van God na my toe bring?
13. Daarom het Dawid die ark nie by hom in die stad van Dawid laat inkom nie, maar dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom, die Gittiet.
14. En die ark van God het by die huis van Obed-Edom in sy huis gebly drie maande lank, en die HERE het die huis van Obed-Edom geseën met alles wat hy gehad het.

1 Kronieke 14:1-17
1. Toe stuur Hiram, die koning van Tirus, boodskappers na Dawid met sederhout en messelaars en skrynwerkers om vir hom 'n huis te bou.
2. So het Dawid dan gewaargeword dat die HERE hom as koning oor Israel bevestig het en dat sy koningskap hoog verhewe was ter wille van sy volk Israel.
3. En Dawid het in Jerusalem nog meer vroue geneem, en Dawid het die vader van nog meer seuns en dogters geword.
4. En dit is die name van die kinders wat hy in Jerusalem gehad het: Sámmua en Sobab, Natan en Salomo
5. en Jibhar en Elisúa en Elpélet
6. en Noga en Nefeg en Jafía
7. en Elisáma en Beëljada en Elifélet.
8. Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor die hele Israel gesalf was, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek. Toe Dawid dit hoor, het hy teen hulle uitgetrek.
9. En die Filistyne het gekom en hulle versprei in die dal Refáim.
10. Toe het Dawid God geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek teen die Filistyne, en sal U hulle in my hand gee? En die HERE het aan hom gesê: Trek op, en Ek sal hulle in jou hand gee.
11. En toe hulle optrek by Baäl-Pérasim, het Dawid hulle daar verslaan, en Dawid het gesê: God het deur my hand deur my vyande gebreek soos water deurbreek; daarom het hulle dié plek Baäl-Pérasim genoem.
12. En hulle het hul gode daar agtergelaat; en Dawid het bevel gegee, en hulle is met vuur verbrand.
13. Maar die Filistyne het hulle nog weer in die dal versprei.
14. Toe raadpleeg Dawid God weer, en God het aan hom gesê: Jy moet nie agter hulle aan optrek nie; trek om, van hulle af weg, en val hulle vlak voor die balsembosse aan.
15. En as jy 'n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, trek dan uit vir die geveg, want God het voor jou uitgetrek om die leër van die Filistyne te verslaan.
16. En Dawid het gedoen soos God hom beveel het, en hulle het die leër van die Filistyne verslaan van Gíbeon af tot by Geser.
17. En die naam van Dawid het uitgegaan in al die lande, en die HERE het die skrik vir hom op al die nasies gelê.

Psalms 78:1-11
1. 'n Onderwysing van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond.
2. Ek wil my mond open met 'n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.
3. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,
4. sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.
5. Hy tog het 'n getuienis opgerig in Jakob en 'n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het -- om dit aan hulle kinders bekend te maak,
6. sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,
7. en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar,
8. en nie word soos hulle vaders nie, 'n koppige en wederstrewige geslag, 'n geslag met 'n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.
9. Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog.
10. Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.
11. En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.

Spreuke 19:20-21
20. Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees.
21. Baie planne is in 'n man se hart, maar die raad van die HERE, die sal bestaan.

Handelinge 7:22-43
22. En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.
23. En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek;
24. en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan.
25. En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie.
26. En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan?
27. Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as 'n owerste en regter oor ons aangestel?
28. Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie?
29. En Moses het op hierdie woord gevlug en 'n bywoner geword in die land M¡dian, waar hy die vader van twee seuns geword het.
30. En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos.
31. En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom:
32. Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie.
33. Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.
34. Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.
35. Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as 'n owerste en regter? -- hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos.
36. Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank.
37. Dit is die Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.
38. Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.
39. Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Egipte teruggekeer
40. toe hulle vir A„ron gesê het: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
41. En hulle het in daardie dae 'n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly.
42. Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel?
43. Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer.