A A A A A

Genese 37:1-36
1. En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän.
2. Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers -- hy was nog jonk -- met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.
3. En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom 'n seun van die ouderdom; en hy het vir hom 'n lang rok met moue gemaak.
4. Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.
5. Ook het Josef 'n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.
6. Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.
7. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.
8. Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.
9. Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog 'n droom gehad -- die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.
10. Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?
11. En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.
12. En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas.
13. Toe sê Israel vir Josef: Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur. En hy antwoord hom: Hier is ek!
14. Toe sê hy vir hom: Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.
15. Daarop kry 'n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom: Wat soek jy?
16. En hy antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas.
17. Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.
18. En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak.
19. En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan!
20. Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.
21. Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê: Laat ons hom nie doodslaan nie.
22. Ruben het ook vir hulle gesê: Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie -- sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.
23. En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,
24. en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.
25. Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens 'n reisgeselskap Ismaeliete wat uit G¡lead kom -- hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring.
26. Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg?
27. Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.
28. En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En hulle het Josef na Egipte gebring.
29. Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie! Daarop skeur hy sy klere,
30. en hy gaan na sy broers terug en sê: Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen?
31. Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag 'n bok en steek die rok in die bloed,
32. en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.
33. En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! 'n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef!
34. Toe skeur Jakob sy klere en trek 'n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank.
35. En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.
36. En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Potifar, 'n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.

Genese 38:1-30
1. In die tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na 'n man van Adullam met die naam van Hira.
2. En Juda het daar die dogter van 'n Kana„nitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan.
3. En sy het bevrug geword en 'n seun gebaar, en sy het hom Er genoem.
4. Daarna het sy weer bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Onan genoem.
5. En sy het nog weer 'n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het.
6. En Juda het vir Er, sy eersgeborene, 'n vrou geneem, en haar naam was Tamar.
7. Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag. Daarom het die HERE hom laat sterwe.
8. Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer 'n nageslag.
9. Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie.
10. En dit was verkeerd in die oë van die HERE wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe.
11. Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly 'n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.
12. En nverloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet.
13. En hulle het Tamar te kenne gegee en gesê: Kyk, jou skoonvader gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer.
14. Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met 'n sluier en draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na Timna lê. Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie as vrou gegee nie.
15. Toe Juda haar sien, het hy haar vir 'n hoer gehou, omdat sy haar gesig toegebind het;
16. en hy het na haar uitgedraai by die pad en gesê: Kom tog, laat my by jou ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. En sy vra: Wat sal jy my gee as jy by my ingaan?
17. En hy antwoord: Ek sal jou 'n boklam van die kleinvee af stuur. Toe sê sy: As jy 'n pand gee totdat jy dit stuur.
18. En hy sê: Wat is die pand wat ek jou moet gee? Toe antwoord sy: Jou seëlring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is. Hy gee dit toe aan haar en gaan by haar in, en sy het by hom swanger geword.
19. En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.
20. En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal. Maar hy het haar nie gevind nie.
21. Toe vra hy die mense van haar woonplek: Waar is daardie hoer wat in Enaim by die pad was? En hulle antwoord: Hier was geen hoer nie.
22. Daarop gaan hy na Juda terug met die berig: Ek het haar nie gevind nie. En die mense van die plek het ook gesê: Hier was geen hoer nie.
23. Toe sê Juda: Laat sy dit hou, dat ons nie 'n bespotting word nie. Kyk, ek het hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie.
24. Nomtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word.
25. Terwyl sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet: By die man aan wie hierdie dinge behoort, is ek swanger. En sy het gesê: Kyk tog mooi aan wie hierdie seëlring en bandjies en staf behoort.
26. En Juda het dit herken en gesê: Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos nie aan my seun Sela gegee nie. En hy het haar verder nie meer beken nie.
27. En toe sy sou baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.
28. En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en 'n rooi draad om sy hand gebind en gesê: Hierdie een is eerste gebore.
29. Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore! En sy sê: Hoe kragtig het jy deurgebreek! En hulle het hom Peres genoem.
30. En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was. En hulle het hom Serag genoem.

Psalms 9:11-20
11. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!
12. Psalmsing tot eer van die HERE wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade.
13. Want Hy wat die bloed soek, dink aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie.
14. Wees my genadig, HERE, aanskou my ellende vanweë my haters, U wat my verhef uit die poorte van die dood;
15. sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.
16. Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het.
17. Die HERE het Hom bekend gemaak; Hy het strafgerig geoefen; die goddelose is verstrik in die werk van sy hande. Higgajon. Sela.
18. Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet.
19. Want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie.
20. Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word! [ (Psalms 9:21) o HERE jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela. ]

Spreuke 3:31-35
31. Wees nie afgunstig op 'n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie.
32. Want die verkeerde is vir die HERE 'n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes.
33. Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges.
34. As dit spotters betref, spot Hy, maar aan die ootmoediges gee Hy genade.
35. Die wyse sal eer beërwe, maar die dwase behaal skande.

Matt 13:1-30
1. En op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit.
2. En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in 'n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan.
3. En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: 'n Saaier het uitgegaan om te saai;
4. en terwyl hy saai, val 'n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet.
5. En 'n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie;
6. maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.
7. En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.
8. En 'n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd--, die ander sestig--, die ander dertigvoudig.
9. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!
10. En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?
11. Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
12. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
13. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.
14. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
15. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
16. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.
17. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.
18. Luister julle dan na die gelykenis van die saaier.
19. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is -- dit is hy by wie langs die pad gesaai is.
20. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is -- dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem;
21. maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir 'n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.
22. En by wie in die dorings gesaai is -- dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.
23. En by wie op die goeie grond gesaai is -- dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd , die ander sestig--, die ander dertigvoudig.
24. 'n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het;
25. maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan.
26. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.
27. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan?
28. En hy antwoord hulle: 'n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak?
29. Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.
30. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.